Sunday, October 23, 2011

Tree Aan!

Kampus-Beeld Pretoria 19/10/2011

Wanneer daar na die grensoorlog verwys word, vereenselwig baie van ons dit met die vuil-bruin weermag sakke wat ons pa’s êrens diep in ‘n kas gebêre het. Netsoos dié sakke, word twee dekades se herinneringe verborge.

Tree Aan! is ‘n satiriese musiekspel oor die diensplig jare wat die herinneringe van die Grensoorlog weer laat opvlam. Vir die wat hulself op die grens gevind het, is die produksie ‘n nostalgiese herdenking van ‘n vergete hoofstuk. Die jonger generasie wat nog net van die grensoorlog gehoor het, kan meer leer oor die kameraderskap, verlange en hartseer van dié tydperk in ons geskiedenis.

Die draaiboekskrywer en direkteur, Deon Opperman, beskryf sy produksie as ‘n bewegende monument van ‘n tydperk wat stadigaan vergeet word deur ons Suid-Afrikaners.

Die produksie bied ‘n roerende storielyn en uitstekende rekwisiete wat gereeld jou asem sal wegslaan, alles terwyl jy veerlig skaterlag vir al die skreeusnaakse staaltjies en karakters.

Tree Aan! is op aandring van die publiek terug op die planke tot November by die Operahuis van die Suid-Afrikaanse Staatsteater. Kaartjies beskikbaar by Computicket.

Thursday, October 20, 2011

Totsiens Kampus-Beeld



Hier sit ek weer vir die laaste keer. Die wyser op my rekenaar flikker afwagtend vir ‘n artikel gereed voor my spertyd. Weereens het ek ‘n magdom informasie wat ek in 300 woorde moet forseer. Maar dié keer rapporteer ek nie oor hoe Sasco vir DASO slegsê, of die VSR wat kopstamp met die Universiteitsbestuur nie. Dié keer onthou ek my dae as lid van Kampus Beeld redaksiespan.

Ek onthou my eerste artikel in Kampus Beeld. Wat ‘n ramp. Ek was ‘n kans gegun om met Laurika Rauch ‘n onderhoud te voer oor haar optrede saam met Tuks se orkes. Maar in die artikel het ‘n aanhanger haar verkeerdelik beskryf. Dit het daarvolgens gely tot ‘n ontstelde Laurika wat persoonlike oproepe maak aan myself en my redakteur. Verbeel net my verbasing toe my foon lui met ‘n ontstelde Laurika aan die ander kant wat uitroep, “Ek voel so magteloos, net-so-magteloos!” Ek herhaal, wat ‘n ramp!

Anders as dié debakel was my tyd verder gevul met soveel kanse en leergeleenthede. Ek het een té veel Serrie konsert bygewoon, en het kennis gemaak met verskeie politieke verenigings en geleer om nie een te veroordeel nie. Hulle almal maak saak! Na ek verby haar sekretaris se sekretaresse gekom het, was ek ook die voorreg gegun om met Prof. Cheryl de la Rey te gesels oor haar planne vir Tuks.

Ek wil graag hierdie kans gebruik om ons redakteur by Kampus Beeld, Riette Grobler te bedank. Met ons eerste vergadering, het sy een van my artikels aan my terug gegee, vol rooi krabbels en regstellings met dié onverskoning, “Jammer vir al die veranderinge, ek is die produk van twee Afrikaanse onderwysers.” Alhoewel dit toe ‘n knou was aan my selfbeeld kan ek twee jaar later dankie sê. Jy het my lus om skrywer te wees en soveel meer om ‘n Afrikaanse skrywer te wees gevoed.

Soos ek vir die laaste keer die Jakarandas sien pers word by Tuks is ek terselfdertyd bang oor wat in die toekoms vir my wag, maar ook trots om terug te kyk na goeie jare as student. Ek groet Tuks, Kampus Beeld lesers en my getroue studentenommer. Ek is nou klaar gepraat.

Monday, October 10, 2011

Tashas, eat your heart out

Die afgelope paar maande was ek suinig met my blog post.

Ek vra om verskoning.

Maar, ek beplan om op te hou sloer en weer gereeld te skryf. Ek begin vanaand deur my gunsteling somerdisse met julle te deel. My liefde vir kos het die laaste ruk geblom en my jeans grootte is testament daarvan. So doen jouself asseblief ‘n guns en probeer die volgende disse. Ek wag vir julle dankie sê e-posse.



Roosmaryn gemarineerde skaaptjops op ‘n bed van roketblare en fetakaas met knoffel gegeurde room-kapokaartappels. Dis ‘n mond vol maar hierdie Tashas geïnspireerde dis is my gunsteling by verre!




Berry blast: Lae (vanaf onder na bo) van bloubessies, versoete vanielje gegeurde room, fyn gekapte aarbeie en kruisement blare. Behalwe vir die bietjie room wat jou laat skuldig voel, is hierdie nie net lekker nie, maar dit dek sommer twee van jou ‘vyf ‘n dag’ se vrugte inname. Wen-Wen!