
• Leuens. Hierdie saak maak my spesifiek woedend. Ek verstaan dat die moderne samelewing baie van jou vereis. Sosiale druk maak mense soms selfbewus oor jou eie sinnelose bestaan. Maar dit is geen, maar geen rede om ʼn leuen te vertel nie. Nie eers ʼn wit ene nie! Gebruik dit eerder as ʼn talent en skryf ʼn storieboek. Jy is daar geensins beperk om te lieg nie. Maar moet dit nie in jou alledaagse lewe gebruik nie. Wees opreg en trots oor jouself en wat jy tot dusver behaal het!
• Lui wees. Hierdie is ʼn spesie wat ons aarde besoedel. Ek kan dit nie verdra as mense hulle pligte oordra aan ander nie. Ons almal is op hierdie aarde gemaak om te doen wat jy moet doen. As jy dus jou verpligtinge oordra na ander veroorsaak jy dat die mense om jou tam en moedeloos raak. Hulle verwens jou ook in die geheim. So hou op om lui te wees en doen wat van jou verwag word.
• Ek het al vroeër my mening gelig oor hierdie saak maar ek sal net gou weer dit noem. Mense wat aanhoudend praat. Julle benadeel nie net julself nie maar ook almal wat vir julle moet luister. Praat, gee kans, haal asem (jy mag net dalk nog breinselle verloor met die tekort aan suurstof) en leer luister! Jy mag net dalk agterkom jy weet nie alles nie.
• Hierdie is baie gemik op die moderne generasie. Jou foon is vir jou persoonlike gebruik. Probeer asseblief om snaakse sms’ies (of e-possies), oulike prentjies en musiek vir jouself te hou. Ons almal het fone en het dit tien-teen-een al gesien of gehoor.
• Ek is nog nie klaar met hierdie saak nie. Hy gaan heelwat gepaard met my vorige een. Musiek... Dit is heerlik. Ons weet. Maar kies asseblief die tyd beter om dit te deel met iemand. Dit is glad nie lekker om by ʼn restaurant te sit en iemand pluk hulle foon uit om die nuutste treffer te deel met almal nie. Boonop sal hulle almal aan tafel laat stilbly sodat ons moet luister. Dit is ongeskik en net irriterend! Hou op.
• Laastens, en die Bybel stem selfs saam met my oor hierdie saak. Skinder. Dit is onaanvaarbaar. Ek kan vreeslike uitbrei oor die wat skinder. Maar al wat ek net gaan sê (vir nou), is dat dit nie op hierdie aardbol hoort nie. Niemand ken ʼn ander nie so hou jou mond oor hulle sake. Werk eerder aan jou eie tekortkominge.
Sjoe, wat ʼn mondvol! Dit voel soos ʼn berg van my skouers af. Ek dink die wêreld en sy mense het nog baie om te leer (ek insluitend!). Totdat ons van beter weet sal ek maar net aanhou slaap en droom van ʼn beter tyd en plek. Dit is ʼn lekker wegbreekkans vanaf ons absurde bestaan.
No comments:
Post a Comment