Saturday, October 16, 2010

Laaste rubriek in Kampus Beeld vir 2010

‘Moet nooit spyt wees nie’ is ‘n baie lang sin.

Ek staan nou die dag in ‘n ry op kampus (besig om te kommer oor my volgende toets) en hoor toevallig hoe twee vriendinne gesels. Die meisies verduidelik aan mekaar hoe wonderlik hulle eerste jaar op kampus verloop het. Hulle spog entoesiasties oor hul nuwe vryheid as studente, en ook oor al die skatte wat die jaar voorsien het: splinternuwe motors, eie woonstelle, goeie vriende en ook oulike kerels wat hulle bederf. Ek het die meisies en al hulle geluk stil-stil vervloek, en verder gekommer oor my verpligtinge.

Hierdie jaar was vir my die teenoorgestelde. Hy was gevul met hartseer, verkeerde keuses, finansiële onstabilliteit, en liefdes kwale. Ek het vir dae hierdie meisies beny. Ek het bly wonder waarom my jaar ook nie iets kon wees om oor te spog met ander nie.

Ek het besef my vorige jare as student was ek bederf en onverandwoordelik. Ek het ‘n sorgvrye lewe geleef en het nie in die minste omgegee oor enige iets behalwe my eie bestaan nie. Ek het gemors met finansies, familie, harte, vriende en ook myself.
Dit het my laat besef hoe hierdie jaar nie noodwendig sleg was nie, maar ‘n herinnering dat ek groot geword het. Ja, ek weet elke student skrik as hulle die woorde “groot word” sien. Dit beteken vir baie die einde van hul bestaan. Studente weet met die verloor van hierdie sorgvrye leefstyl kom verandwoordelikheid, finansiële bewustheid en aansienlik minder aande in die square (hierdie mag miskien die moeilikste van almal wees).

Toe ek myself weer toelaat om in een van my vriende se ore te neul oor al my tekortkome, sê hy baie kalm en eerlik vir my: “Dit is hartseer hoe jou jaar vol uitdagings was. Maar jy moes daar deurgaan om te besef hoe waardevol sekere dinge is in die lewe. Jy gaan ook nou twee keer dink voordat jy met ander mors.”

My lewens filosofie was nog altyd om nooit spyt te wees nie. Ek het selfs die woorde “no regrets” op my pols getatoeër (ek het besluit op engels omdat die woorde ‘moet nooit spyt wees nie’ eenvoudig nooit sou pas nie) om my te herinner hiervan. Ek het gereeld gesoek na ‘n antwoord vir al my kwale maar het vergeet om net op my arm te kyk. Ek kan nou terug kyk na al my uitdagings en nie spyt wees oor enige een van hulle nie. Hulle het my gebring tot waar ek nou is.
Sterker, meer volwasse, meer bewus van ander en nog ‘n trappie nader aan my toekomstige lewe. So aan al die studente wat ander se geluk beny en verwens, hou op. Jy maak jouself net moeg. Jou ongeluk is nie ‘n uitgemaakte saak nie. Jou beurt sal weer kom, jy het net nou nodig om bietjie te leer.

No comments:

Post a Comment