Wednesday, March 23, 2011

Vra maar gerus (op eie risiko)

Eens op ‘n tyd het my broer en sy dierbare vrou ‘n mite met my gedeel wat op kampus gevind kan word. Vir lank het ek net gedink die twee praat bog maar nou, in my finale jaar kan ek hulle storie staaf en met trots die bestaan van toets-tannies en omies bevestig.

Ek kom pas van my eksamenlokaal af waar ek weereens myself uit ‘n tameletjie gegorrel het en wil nou hierdie fenomeen deel. Ek het tussendeur my vrae die toesighouers observeer en was verbaas hoe alles wat vertel was aan my, waar is. Wat my aanvanklik verras het, was hulle hartstog tenoor hulle werk. Ek verstaan nie waar kom die passie op hulle ouderdom vandaan nie.

Elke reël word tot op die punt gevolg en bewaar diegene wat durf nie saamwerk nie. Ons word soos stoute kleuters bymekaar geroep om stil te wag voor die lokaal sodat ons stiptelik kan inbeweeg sodra die langwyser toestemming gee. Soos op ‘n lughawe word jy dan ondersoek voor jy kan binnegaan. Jy word op-en-af bekyk om seker te maak jy lyk nes die verwarde student op jou studentekaart. As jy dus nie lyk soos die bleek siel op jou kaart nie word jy ondervraag en forseer om voor in die lokaal te sit soos die skelm wat jy net moontlik kan wees. Voor die vraestelle uitgedeel word, word daar seker gemaak of elke student ewe ver uitmekaar gespasieer is. Daar word tot op die sentimeter gemeet sodat studente op ‘n bullike afstand van mekaar sit, net genoeg sodat die wakende oog nie sy kans probeer nie. Dan volg die toespraak van selfone wat ander steur, die erns van oneerlikheid en laastens word daar rustig seker gemaak dat elke student die benodigde hoeveelheid bladsye besit om voort te gaan met die lang ure wat voorlê. Terwyl ons dan rustig deur die vraestel beweeg stop ons, af-en-toe om te giggel vir die skel wat hulle gee wanneer twee verbygangers net té hard gesels.

Ek dink dit moet ‘n heerlike beroep wees as jy eers afgetree het of selfs ekstra geldjie benodig. Jy word betaal om heeldag onderwyser te speel en het ‘n seker mate van outoriteit. Jy kan ook saam met jou geliefde werk en suutjies vir mekaar oogknip terwyl die arme studente hulself doodkommer oor die riller wat hulle tans beleef. Ek het al op my tyd gesien hoe toesighouers skelm onder mekaar lag vir my wat angstig my kop krap. Dit was vir my ook ‘n heerlike verrassing toe ek agterkom dat die toesighouers nét toesighouers is. Hulle weet net so min soos ek vanaf die vak. Dit beteken dus hulle hoef nie eens te geswot het om daar te wees nie. Wen-wen! Ek het per toeval uitgevind toe ek eenmaal ‘n tannie iets oor die vraestel vra en sy net daar voor my meer gorrel as wat ek ooit kon in my jare by die Universiteit. In kort beny ek hulle. Hulle gee hulle beste elke keer. Ek wens ek besit eendag dieselfde passie vir my beroep soos dié mense. Tot dan moet ek nog eers ‘n paar keer ‘n lokaal deel met dié toets-tannies en omies.

Monday, March 7, 2011

'Maak 'n las' se moses.


Ek en my kamermaat aka Roomy/Marié het die beste Sondag tradisie ooit begin, Potjiekos Sondae. Ons Sondae word gespandeer in die flat, in ‘n parkie langs ‘n dam of op ons woonstel se dak met ‘n kombers, vrugtesap (Of wyntjie. Nes jy wil...) en ‘n legio bestanddele gereed soos soldate om in ‘n miniature potjie ingeprop te word vir watertand konkoksies. Hier is ‘n paar van ons gunstelinge:



Vispotjie met knoffel-botter sous.


Hoenderpotjie met gemengde groente, vars kruie en 'n roomsous..


Kerriefiletpotjie met tamatie en knoffel sous.

Ek en Roomy langs LC dam. Ons gaan dae soos dié altyd onthou. *Kan ek net onverskoning vra vir Roomy se parmantige boobs in hierdie kiek. Hulle het maar 'n wil van hul eie.*