Friday, February 25, 2011

Dankie Koo.

Die onderwerp wat hierdie week op almal se lippe hang is ons land se begroting vir 2011. Na ons minister van finansies Woensdag, 23 Februarie die begroting bekend gemaak het, krioel al wat ʼn sosiale netwerk blad is van omgekrapte plasing oor die verhoogde alkohol- en sigaret pryse. Studente tob tesame oor hoe hulle dié duur gewoontes gaan finansier. Ek myself het ook al oorweeg om my rooiwyn en mentol sigaret rituele te laat staan oor ek moet eet.

Ek het al telkemale kere in my jeug gewonder waarom is daar soveel bohaai oor finansies. Ook het ek nooit belang gestel oor dié onderwerp nie en finansiële bewustheid was iets wat ek eerder oorgelaat het aan politiese leiers, BCom studente en my ouers. Tog die waarheid is, met ouderdom kom daar instinktief ʼn bewustheid oor geldsake. Ek het skielik besef hoe nodig, maar moeilik bekombaar hierdie koopmiddel is. Dus het ek geleer om nie meer geld vanselfsprekend te neem of daarmee te mors nie.

Om dié rede moes ek my ‘bourgeis’ gewoontes aanpas. Ek moes eerstens my vrees vir plooie baasraak en my gesigroom aankope halveer. Ek het ook beleg in hoedens (“wees altyd op hoede vir die son,” het my ouma altyd gekarring). Ook het ek begin twee-maal dink oor die waarde van alkohol wanneer ek sosiaal verkeer. My brein het outomaties begin uitwerk hoeveel petrolgeld ek mors na elke drankie. Onverwags proe bier bitterder en ʼn tequila shot ʼn honderdmaal slegter as voorheen. Laastens moes ek begin werk. Dit is sekerlik die tragieste verandering van die lot. My dae van rondlê en televisie reekse inryg tussen klasse is daarmee heen.

As jongmens was dit baie eenvoudig om by jou ouers aan tafel te gaan sit en ʼn maaltyd te geniet. Selfs as koshuisstudent het ek net ʼn ete bestel en dit gaan optel sodra my maag begin grom het.
Slegs die dag wanneer ek my eie geld verdien het en nie een van hierdie luukshede tot my beskikking gehad het nie, het ek die wonderwerke van gebakte bone en two minute noodles ontdek. Met net genoeg kreatiwiteit kan jy enige vervelige dis in ʼn feesmaal omsit.

Die waarheid is, om jou eie geld te verdien en dit goed te gebruik is ʼn moeilike vernuf om aan te leer. Dit vat jare se oefening en kopstamp om dit eers onder die knie te kry. Daar is wel nie ʼn meer bevredigende gevoel as finansiële selfstandigheid nie. So ek het maar al my gemoed versamel en geluister na meneer Pravin Gordhan se lang toespraak terwyl ek heerlike aan my soet-suur gebakte bone met vars basilblaar toebroodjie smul.

Friday, February 18, 2011

'Facebook' generasie

Dit is die eerste week van klasse. Ek is opgewonde! Nee ek is meer as net opgewonde, ek is trots. Nie net trots dat hierdie my finale jaar is nie, maar dat ek my finale jaar by Tukkies kan spandeer. Daar is net ‘n handjievol studente wat hierdie jaar kon registreer en ek is een van hulle. Maar my opwinding en trots was die hele week in gedrang met die nalatenskap van hierdie jaar se Jool-optog wat soos ʼn donker wolk oor my hang.

Terwyl ek die eerste dag terug op kampus tussen die verwarde eerstejaars ryg (en hulle stil-stil uitskel) besluit ek gou om voor my klas by die biblioteek om te gaan. Ek neem my plek voor ʼn rekenaar en lag in my mou vir ʼn paar verveelde studente wat oor hulle skouer loer vir die biblioteek tannie wat enige oomblik agter ʼn rekenaar kan spring en hulle uittrap oor hulle skelm ‘Facebook.’ Ek fokus weer op my skerm, stuur ʼn paar e-posse en loer gou in op ʼn aanlyn nuusblad vir ʼn opvangsessie van sake.

Ek sien ʼn artikel wat handel oor hierdie jaar se Jool-optog en oor ek nie self dit kon bywoon nie, klik ek daarop. Die artikel handel nie oor Tuks wat ʼn suksesvolle Jooloptog aangebied het nie, of selfs oor die baie geld wat vir liefdadigheid ingesamel is nie, maar presies wat die titel lees: “Soos Straatboewe”. In die artikel word daar beskryf hoe dronk studente in die strate van Brooklyn onverstandig tekere gaan en verbygaande motoriste versteur en selfs hulle motors vandaliseer. Saam met die artikel is daar ʼn kort video opname van roekelose studente wat ʼn taxi bestuurder stop, sy motor oordonder en die mense binne-in natgooi met water.

Die volgende dag op kampus, met net soveel opwinding, herhaal ek nuuskierig hierdie roetine om te sien wat het gekom van die boewery saak. Ek vind toe ʼn ander artikel oor die Jool-optog: Twee eerstejaarstudente wat besluit om regstappe teen die polisie te neem omdat daar teen hulle ‘pepper spray’ gebruik was tydens ʼn stryery.

Teen die derde dag terug is die opwinding ietwat belemmer en my roetine nou ʼn ingestelde saak om te sien waaroor gaan daar nou geskryf wees oor Jool. Ek gaan blymoedig aanlyn om te sien of daar miskien iets goed geskryf is en of die nagevolge ten minste al oorgewaai het. Teen my bittere teleurstelling is daar ʼn tragiese artikel van ʼn student wat breindood verklaar was na hy raakgery was tydens die optog.

Drie dae, en drie negatiewe artikels. Is dit die beeld wat ons wil skep van Tukkies en studente? Het daar niks goed gebeur tydens Jool nie? Waar lê die fout? Is dit die Suid-Afrikaanse media wat net fokus op die negatiewe? Is dit die jeug wat nie hul perke ken nie? Is dit alkohol? Is dit omdat die moderne student verveeld is? Is dit oordat studente niks verder kommer as hulle volgende plasing op ‘Facebook’ nie?

Soveel vrae en almal bly retories. Intussen, terwyl elke student besig is om te ‘Facebook’ maak die een vrot appel die hele mandjie sleg.

Thursday, February 10, 2011

Moet my asseblief nie 'Cc' of 'Bcc' nie.

Ek onthou destyds as ʼn gretige nuweling wat by Hoërskool aansluit was een van my grootste vrese groepsdruk. Ek onthou veral hoe ek die aand voor St.6 verdrietlik aan my boetie bieg dat ek nie my individualiteit wil prys gee vir ʼn slegte sigaret agter ʼn onderwyser se klaskamer net om ‘in te wees’ nie. Hy het my getroos, en herinner dat ek altyd 'anders' sal wees en ook gedreig dat as ek ooit ʼn sigaret aan my lippe sit sal ek tweede kom.

Vyf jaar later was ek ʼn matrikulant en my Hoërskool loopbaan was groepsdruk vry. Bitter verlig oordat ek hierdie nare fase ontduik het tuimel ek die grootmens wêreld binne. Dit was toe wat ek besef hoe selfs na Hoërskool kan groepsdruk steeds soos ʼn donker wolk oor jou kop hang.

Skielik vind ek myself in ʼn wêreld wat strewe na aardse besittings, eposse met irriterende voorspoedbriefies, nagemaakde liefde en seks. Ook ʼn wêreld van alkoholmisbruik, speletjies met mekaar se harte en ʼn onnatuurlike drang om in te pas. As jongeling was ek oordonder met al hierdie verwagtinge en dadelik het ek myself ook laat in pas. Dus het ek my individualiteit prys gegee en dit nog sonder ʼn sigaret.

Ek is nou in my finale jaar op Universiteit. Die jaar wat tel. Hierdie jaar is ek spoedig oppad om my graad te kry. Die jaar wat ek die volwasse lewe betree. Ek het nie meer die stamina en die gebrek van fatsoenlikheid vir alkoholmisbruik nie. Ek het nie die lus en tyd vir speletjies, vervalsde liefde verklarings en onverskillige seks nie. Ek skrap alle eposse met die titel ‘FW:’ en laastens, vermy ek ten alle tye om in te pas want dié wat doen, verveel my.