Monday, August 30, 2010

Mamma Afrika gekiek deur Ryno Ellis






Kosbare lente lug


Die son is weer liefdevol. Die gedagte van vroeg opstaan en ontbyt eet is nie meer barbaars nie. Groenigheid word orals gevind tussen die dorre bruin. Daar is ʼn duidelike reuk in die lug wat ek jaar-op-jaar net nie kan beskryf nie. Dit is lente!
Ek stap vanoggend spesiaal ʼn ompad klas toe sodat ek die oggend lente lug langer kan geniet. Op pad wil ek ‘n foto neem van elke blommetjie en deel met ander. Ek juig binne in my kop elke keer wat ek ʼn kortbroek of ʼn somerrokkie sien. Ek kan nie eers verduidelik wat ek voel as ek ander ook sien plakkies dra nie. Ek is so na aan ʼn natuurlike ‘high’ dat ek almal om my net wil groet, en soms selfs soen. Dit was totdat ek haar betrap het…

Met die eerste sig lyk sy na ʼn gewone jong dame wat die lente waardeur, net soos ek. Met haar somerrokkie en pragtige blonde hare staan sy en wag vir klas om te begin. Skielik loop dinge drasties skeef. Tussen haar fyn vingers bring sy ‘n sigaret nader aan haar gespanne lippe. Sy steek die kankerdraer aan en haar lippe trek saam en sy begin suig. Die jong dame suig asof haar hele wese staat maak daarop. Die gifpyl se kooltjie brand van plesier. ʼn Duiseligheid spring in my gemoed op en ek kry haar longe bitter jammer. Meteens heroorweeg ek of ek ‘n lenteviering soen met haar wil deel.

Hoe kan ʼn jong dame die oggend so begin? Ek verstaan nog die verslawing van ʼn lekker koppie koffie in die oggend maar ʼn sigaret? Met al die rook in haar longe waar bly daar plek oor vir die oggend asem?
Ek loop ʼn wye draai om die meisie en haar besoedelde rookwolk. Ek gril ‘n bietjie vir die reuk wat vlugtig deur my neusvleuels disko en ek stap verder. ‘n Paar sekondes later besef ek sy het ook haar eie gewoontes en sy verdien geen oordeel nie. Ek gun haar ‘n sigaret en geniet verder die oggendlentelug. Ek raai almal aan om vroeg op te staan (en sommer al jou laste en onnodige rituele agter te laat) en dit self te ervaar!

Monday, August 23, 2010

Ken jouself


Nie te lank terug nie, in ʼn joernalistiek klas het ek my vergaap aan die onkunde teenoor MIV/Vigs. Die kommentaar wat ons presedent Zuma destyds kwyt geraak het van die ‘wonderwerkstortbad’ wat ontslae kan raak van die MIV virus, het die klas dadelik in die direksie gedryf na ʼn vurige bespreking. Ek het ʼn ramp voorspel en geskuil. Vanuit die donkerte van my hoekie bekyk ek die debat. Sommiges verdedig lojaal ons presedent en stry dat hy verkeerdelik aangehaal is waar ander hom weer teenstaan. Ek myself was nog nooit een vir politiek nie. So ek sit net en geniet die spel. Toe gebeur dit. ʼn Student maak ʼn opmerking. Woordbraaksel vind plaas reg voor my eie oë! ʼn Mening wat die wêreld en al sy rykdom laat stilstaan. Die spul joernalistiek studente bly tjoepstil (baie ongewoon!). Die dosent wil huil. Ek, vanuit my hoekie, verstik aan die oomblik.

Die student wat pas kliphard gebieg het dat Zuma heeltemal ʼn punt beet het vertel toe verder, “Dit is medies bewys. ʼn Man kan seksueel verkeer met ʼn vrou wat MIV het en daarna eenvoudig daarna stort en steeds veilig bly.” So asof dit net vuilgoed is, dink ek vir myself. Hy uiter verder, “Jy kan dus die MIV virus van jou penis af was en nie siek word nie. Dit is waarom vrouens die virus makliker ontvang as mans.” Daar is ʼn doodse Stilte in die lesingsaal. Ek sukkel nog aan die idee dat hy pas hardop die woord ‘penis’ gesê het. Die stilte bly net vir ʼn oomblik en daarop volg alle hel. Sommige studente spring van hulle stoele, ander gil en sommiges gryp net na hulle monde (soos ek!). Ek kry hom jammer vir ʼn oomblik maar dit gaan weer verby en ek staan reg om hom met my foon by te kom.

Tot en met vandag worstel ek oor die vreemdeling se kommentaar: Hoe kan ʼn student wat studeer om ʼn informant te wees, so naïef wees? Weet Zuma sy onkunde wond ʼn nasie? Ken die vreemdeling sy status? Hoe kan ek help?
Miljoene rande word jaarliks bestee om hierdie ongeletterdheid te beveg. Daar is geen rede om vandag in Suid-Afrika net eenvoudig te sê, “maar ek was nie bewus daarvan nie.” Die sentrum vir vigsnavorsing (CSA) bied ʼn hele week om studente bloot te stel en te leer van MIV/Vigs. Besoek Vigs week wat plaas vind tussen 16 en 20 Augustus op kampus. So asseblief, gaan ondersteun hulle, vertel ʼn vriend, gaan toets jouself (by kampus kliniek) en weet. Met kennis kan hierdie epidemie gaan lê.

Wednesday, August 11, 2010

Madiba voorsien nog


Dit is ʼn nuwe dag en ek wag vir die verkeerslig om vir my te knip sodat ek kan gaan. Netjies pas my betroubare bromponie tussen die twee peperduur voertuie en ons al drie wag. Elkeen van ons is gretig om weg te trek. Sodra iemand ʼn trappie vorentjie beweeg, volg die ander twee spoedig. Onrustig en haastig word hierdie ʼn uitdagingspel. Die Garsfonteinpad verander na ʼn resies baan en elkeen van ons wil wen. Wie gaan laaste wegtrek? Die teenoorgestelde lig wys oranje en ons weet die oomblik is hier. Groen! Ons jaag…

Jaag na wat? Hoekom is almal in ons land (ek inkluis) so haastig? Ons bestemmings is dan net ʼn verdere metaforiese wedren. Waar stop hierdie onvervulde eindbestemmings. Wanneer gaan ons iets doen wat die leeg plekkie vul?
ʼn Rukkie terug, weereens na ʼn gejaagde dag wag ek vir my kêrel om huiswaarts te verkeer. Ek kry ʼn boodskap van hom wat vra of ek sal omgee as hy iemand langs die pad help. “Natuurlik nie,” laat weet ek hom. Heel in voering met my man se gawe poging om vreemdes te help met hulle motorprobleme raak ek weer verlore in my tydskrif. Tien minute later arriveer hy met twee vreemde gaste. Ek roep hom verward en begin hom oorrompel met vrae:

“Wie is die mense?” vra ek. “Die mense wat ek help,” antwoord hy. “Waar kom hulle vandaan?” vra ek. “By die verkeerslig,” antwoord hy. “Wat doen hulle?” vra ek. Hulle is straatsmouse antwoord hy. “Vir wat wil jy hulle help?” vra ek. “Dit is my 67 minute vir liefdadigheid,” sê hy trots.

Nog vies skel ek saggies ʼn bietjie (sodat ons gaste nie hoor nie). Hy vra my toe mismoedig of hy hulle moet terugvat na die verkeerslig. Ergerlik sê ek nee en storm weg. Ek stap na ons leefarea en groet die vreemdelinge. Ons begin gesels en kort daarna begin ek hulle leer ken. Die oom, ʼn voormalige kok, het onlangs in ʼn motorongelik sy been en vrou verloor. Sy seun, nog jonk probeer die skerwe van sy pa se lewe weer bymekaar sit. Meteens besef ek hulle kort steun. Iemand wat aandag gee. ʼn Persoon wat hulle nog deel laat voel van die beskawing. En ʼn goeie bad! Ek spring op, jaag hulle badkamer toe en begin ʼn feesmaal voor te berei. My man vaar hulle haardosse in en ek kry hom jammer. Ek bedien aandete voor en ons almal geniet saam en kyk 7de Laan. Skielik is die leëplekkie vol.