Wednesday, August 11, 2010

Madiba voorsien nog


Dit is ʼn nuwe dag en ek wag vir die verkeerslig om vir my te knip sodat ek kan gaan. Netjies pas my betroubare bromponie tussen die twee peperduur voertuie en ons al drie wag. Elkeen van ons is gretig om weg te trek. Sodra iemand ʼn trappie vorentjie beweeg, volg die ander twee spoedig. Onrustig en haastig word hierdie ʼn uitdagingspel. Die Garsfonteinpad verander na ʼn resies baan en elkeen van ons wil wen. Wie gaan laaste wegtrek? Die teenoorgestelde lig wys oranje en ons weet die oomblik is hier. Groen! Ons jaag…

Jaag na wat? Hoekom is almal in ons land (ek inkluis) so haastig? Ons bestemmings is dan net ʼn verdere metaforiese wedren. Waar stop hierdie onvervulde eindbestemmings. Wanneer gaan ons iets doen wat die leeg plekkie vul?
ʼn Rukkie terug, weereens na ʼn gejaagde dag wag ek vir my kêrel om huiswaarts te verkeer. Ek kry ʼn boodskap van hom wat vra of ek sal omgee as hy iemand langs die pad help. “Natuurlik nie,” laat weet ek hom. Heel in voering met my man se gawe poging om vreemdes te help met hulle motorprobleme raak ek weer verlore in my tydskrif. Tien minute later arriveer hy met twee vreemde gaste. Ek roep hom verward en begin hom oorrompel met vrae:

“Wie is die mense?” vra ek. “Die mense wat ek help,” antwoord hy. “Waar kom hulle vandaan?” vra ek. “By die verkeerslig,” antwoord hy. “Wat doen hulle?” vra ek. Hulle is straatsmouse antwoord hy. “Vir wat wil jy hulle help?” vra ek. “Dit is my 67 minute vir liefdadigheid,” sê hy trots.

Nog vies skel ek saggies ʼn bietjie (sodat ons gaste nie hoor nie). Hy vra my toe mismoedig of hy hulle moet terugvat na die verkeerslig. Ergerlik sê ek nee en storm weg. Ek stap na ons leefarea en groet die vreemdelinge. Ons begin gesels en kort daarna begin ek hulle leer ken. Die oom, ʼn voormalige kok, het onlangs in ʼn motorongelik sy been en vrou verloor. Sy seun, nog jonk probeer die skerwe van sy pa se lewe weer bymekaar sit. Meteens besef ek hulle kort steun. Iemand wat aandag gee. ʼn Persoon wat hulle nog deel laat voel van die beskawing. En ʼn goeie bad! Ek spring op, jaag hulle badkamer toe en begin ʼn feesmaal voor te berei. My man vaar hulle haardosse in en ek kry hom jammer. Ek bedien aandete voor en ons almal geniet saam en kyk 7de Laan. Skielik is die leëplekkie vol.

No comments:

Post a Comment