Wednesday, May 23, 2012

Staaltjie vanuit die boekrakke

Hermias het deur sy pa die pos gekry by die biblioteek waar hy sy aande spandeer om rakke reg te pak, en mense te SHOOSH! Na twee jaar het hy die boekrakke beter geken as sy pad huistoe en hy kon ‘n verbykomende boeing stilmaak. Enige onderwerp vanaf argitektuur tot ingenieurswese kon jy vir Hermias oor uitvra, en hy het jou reguit na die rak gestuur waar jy dit sal kry. Daar was wel een ding wat hy in die twee jaar by die biblioteek jou nie mee kon help nie, en dit was Katinka.

Katinka was die dorp se grootste koek en Hermias was hals-oor-kop verlief op haar. Sy het gewerk net een vloer bo Hermias s'n, by die Teologie afdeling. Vir haar kon jy enige iets vra oor geloof en sy het vir jou ʼn boek en ʼn preek voorsien. Daar was gerugte dat haar ouers haar telkemale kere ingeskryf het vir KykNet se ‘Boer soek ʼn vrou,’ met die hoop dat sy ʼn man sal vind, en uit die huis trek sodat hulle kans kry om hulle pensioen en skelm skinnydip-sessies te geniet. Dit was alles tevergeefs want Katinka het geweier om te sondig, en hulle het maar begin voorberei vir die dag wat sy sou uitkom as lesbies.

Maar wat niemand geweet het nie, was dat Hermias gedurig in haar dagdrome verskyn het. Ook elke keer wat hy haar vriendelik gegroet het met sy bekoorlike check-hemp en kleurvolle strikdas, het Katika dieselfde kriewel gevoel in haar broek gekry soos destyds toe sy as tiener vir Chris Edwards op Egoli gesien het. Sy het dan die oomblik probeer red deur histeries te giggel, bedagsaam terug te groet en dadelik vergifnis te vra deur stilgebed.

Na lang ure se worsteling met homself het Hermias een aand besluit hy kan nou nie meer met hierdie geheim verder rondloop nie, en besluit om sy liefde aan Katinka te verklaar. Die enigste probleem was, hy was bang. Baie bang! Net soos Katinka in die geheim bang was om die roerende gevoel met hom te deel, was Hermias ook te bang vir die potensiale vernedering en verwerping wat op hom wag as sy, soos haar ouers vermoed, vir die ander span bat.

Hy het wel hierdie vrees diep gebêre en seker gemaak om Katinka in die koffiekamer om 6:30 (die tyd wat sy elke aand haar rooibos-tee en Marie-beskuitjies geniet) terloops raak te loop.

Teetyd het aangebreek en Hermias stap angsbevange teekamer toe. Met sy aankoms groet hy Katinka waarby sy hom groet met haar dierbare giggel en blooswangetjies. Sy maag slaan bollemakiesies. Hy maak vinnig ʼn koppie tee en loop amper in die deurkosyn vas terwyl hy orals om hom mors. Toe hy uiteindelik sy sit kry, vang hulle eers op met mekaar se doen en late, soos hulle gewoonlik doen. Daarna volg ʼn ongemaklike stilte. Hermias se oë vang hare, en hy kyk vinnig af. Sy lyk benoud en hy wonder of hy die rede is vir die ongemak. Hy voel hy gaan enige oomblik ʼn kat skiet, maar hy skel homself saggies en herinner homself dat hy nie meer ‘n tiener is wat wil opgooi vir alles nie.

Meteens kry hy moed van bo af, maar toe hy opkyk, staan Katinka voor hom met haar oë styf toegedruk en haar gebreide toppie opgelig. Hy staar vir ‘n paar sekondes na die pragtige wit borste met fyn moesies en probeer iets uiter. Toe hy sy mond oopmaak is die oomblik te groot en al wat uitkom is sy middagete; kaas en spinasie quiche.

Vir weke kan niemand tee drink in die teekamer nie. Daar word vermoed iemand het melk gemors wat êrens lê en suur word. Anders as die teekamer misterie, het Hermias en Katinka spoorloos verdwyn. Daar word bespiegel waar hulle heen verdwyn het. Iemand het genoem, hy het vir Katinka een aand op televisie gesien, maar is nie heeltemal seker dit was sy nie.

Een ding wat almal wel weet, is dat haar ouers heeltemal kens is na haar verdwyning, want hulle dra blykbaar nou nooit meer klere nie.

No comments:

Post a Comment