Thursday, December 9, 2010

Sestien steke is niks in vergelyking...

Ek was onlangs in die hospitaal vir ’n operasie (dit is ’n blog vir ’n ander tyd maar ek gaan net noem dat ek sestien steke gekry het... Boooya!). Ek hou hoegenaamd niks van hospitale en die morbiede atmosfeer wat hulle skep nie. Alles vanaf die kos, die reuke, die siek mense wat drentel met hulle drip sakkies wat saam agtervolg en die ongelooflike vernederende blou weggooibare onderbroeke is alles iets wat ek liefs vermy. Terwyl ek in die saal lê en wag vir my operasie probeer ek my bes om geselskap met ander in die saal te vermy. Sodra iemand na my kant toe kyk glimlag ek net en maak asof ek iets dringend moet tik op my selfoon. Omdat ons ’n saal deel is dit nie goed genoeg rede vir my om met vreemdelinge oppervlakkige geselsies aan te knoop en onderlangs te kompeteer wie is die siekste nie. Maar helaas na ’n hele paar mislukte pogings om te maak of ek slaap kon die moeder langsaan my net nie meer haar opwinding inhou nie. Sy begin gretig deel hoe haar seun (wat ingenieurswese studeer by Tuks!) op pad was om sy verstand tande te verwyder. Geïrriteerd met ‘n grommende maag (ek vra met trane in my oë, waarom mag mens nie eet voor operasies nie) sit ek toe maar regop en gesels saam.

Oorkant my bed was daar ook ’n jongman. Dit was duidelik waarom hy in die hospitaal was, sy regterarm was onlangs geamputeer. Terwyl hy besig was om te eet, verskuif die moeder haar aandag oor na hom toe en lig hom ook dadelik in oor haar seun se studiekeuse. Sy vra hom toe ook uit oor sy ongeluk.
Hy verduidelik hoe hy onlangs in ’n myn ongeluk was en het dus so sy regterarm verloor. Die moeder gesels verder met hom en hy geniet die aandag. Ek wat oorkant sit en luister hoe hulle klets, vermy toe enige oogkontak met die man. Ek het nog nooit geweet hoe om met mense met ’n gebrek te hanteer nie. Ek dink dit is omdat ek vir hulle jammer voel en so graag wens ek kan dit beter maak vir hulle. En is dus bang dit wys in my gedrag teenoor hulle. Ek weet ook nie of ek die persoon sal te nakom deur die verkeerde vrae te vra nie. Maar terwyl ek luister hoe hulle gesels bly ek wonder of die man weer gaan gelukkig wees? Of voel hy sy lewe is verby? En hoe gaan hy kan aanbeweeg?
Maar toe gebeur die volgende. Terwyl die susters die seun langs my instoot om sy verstand tande te verwyder vra die man sonder die arm vir hom, “Wat gaan hulle aan jou doen?” Die seun (wat tans bleek was van angs) antwoord, “Ek gaan my verstandtande verwyder.” Die man antwoord met baie entoesiasme en verligting terug, “Shoe, ek is bly ek is nie jy nie!” en wens die seun sterkte toe.

Heel verbaas en geskok probeer ek om nie hardop te lag vir hierdie ironiese scenario nie. Hier sit ’n man sonder ’n regterarm en voel verlig dat hy nie op pad was om vier tande te verwyder nie. Was hy sarkasties? Of dink hy rêrig om verstandtande te verwyder is erger as ’n geamputeerde arm? Dit het my dadelik laat besef dat die man ‘fine’ is. Hy is positief en kry homself nie jammer nie. Hierdie is vir hom net ’n struikelblok in sy lewe en hy gaan nie dat dit hom onderkry nie. Hy het wel vir die seun se ma gebieg dat hy steeds bang en hartseer is, maar hy weet hy gaan ’n volle lewe lei omdat hy baie hoop het.

My operasie het vlot maar heel vernederend verloop omdat ek in my lokale verdoofde staat vir die dokter bly vrae vra soos “Dokter, hoeveel mense is al vandag op hierdie teater bed dood?,” en “Het jy al ooit ’n vak geher want ek het al BAIE!” Maar na daardie dag in die hospitaal het die afarmman my inspireer. Ek het besef, en bly myself herinner dat geen probleem of uitdaging wat die wêreld jou kant toe stuur nie oorkombaar is nie. Al wat jy nodig het, is genoeg hoop.

1 comment:

  1. Love die... Ps 22 steke myne vir die record...
    ('_')
    I
    /[ ]\
    / -\-----------
    / \

    ReplyDelete