Sunday, December 12, 2010

Verwyder die blinddoek

Elke persoon het daardie iemand in hulle lewe wat stil-stil jou maak wie jy is. Hulle is amper soos jou lewende en tasbare weergawe van ’n ‘engel bewaarder.’ Hulle breek, bou en beskerm ongesien jou hele lewe lank, terwyl jy te besig is om dit te geniet.

My ‘engelbewaarder’ was nog altyd by my. Maar die blinddoek van my jeug het my nooit toegelaat om hom rêrig te sien nie. Ek het net altyd hom vanselfsprekend aanvaar en het net aangeneem hy is deel van ‘die pakket’ van my lewe. In my naive dae van jonk wees en selfsug het ek selfs aangeneem dat hierdie persoon my net nie ken of verstaan nie. Ek het gedurig gedink, hoe kon iemand so eenvoudig en stil ooit ’n eksentriese wese soos ek verstaan. Maar ek was net bederf.

Dit was nie totdat ek grootword en my aandag verskuif van myself na dies om my wat die blinddoek verwyder word nie. Ek het my ‘engelbewaarder’ herontdek en het besef dat ons kan saamstem, gesels, saam huil en staaltjies deel van ons lewe. Dit het gebeur een middag terwyl ons in die motor ry en spontaan klets wat my self-sprekende liefde van al die jare verander het in ’n liefde wat nie beskryf kan word nie. Meteens besef ek dat hy my nie net verstaan nie maar dat hy my met sy hele hart liefhet. Ek is gedurig opsoek na onvoorwaardelike liefde en hier was dit, reg voor my. Die idioom, as dit ’n slang was, het hy jou gepik eggo laggend in my kop. En alhoewel hy altyd daar was en gesorg het, het ek hom nooit gesien nie maar nou net die gedagte van hom nie meer in my lewe nie, veroorsaak ’n hartseer wat ek nooit wil ervaar nie.

Ironies genoeg, dieselfde eenvoud, geduld en stilte wat ek eens nie kon verstaan van my pa nie is nou die einste karaktertrekke waarna ek strewe. Hy het gegaan vanaf net iemand in my lewe, na my grootste rolmodel. Ek wens in my toekoms kan ek dieselfde geduld en liefde hê wat hy nog sy hele lewe lank so suutjies gedeel het. Ek sien uit om in my ouer jare soos hy te wees, net sonder die boepens.

2 comments: