Tuesday, May 22, 2012

Nog ‘n dag, nog ‘n sosiale mediablad om by aan te sluit

Toon het homself nog altyd as ‘n tech savvy tipe persoon beskryf. Toe Suid-Afrika sy eerste mobiele foon in die winkels bekendstel, was hy eerste in die ry om een aan te skaf. Ook die dag toe digitale kameras sy neus wys het hy al wat ‘n blom en landskap gekiek en daarna elke foto netjies in ‘n folder op sy rekenaar gestoor. Van die Internet kon jy hom niks vertel nie. Hy het presies geweet waar al die www’s en punte kom en ook wat jy daar kan vind. Vra hom uit oor enige webblad of onderwerp dan begin hy verduidelik wat hy al gelees het. Dit was tot en met die internetfoon hibriede wat Toon sy vriende en familie begin afskeep het.

Toon se nek was gedurig krom gebuig terwyl hy besig was op sy foon opsoek na iets. In die middel van gesprekke het hy skielik begin tik aan eposse. In die donker van die nag was sy gesig gedurig verlig deur sy skerm soos een van daardie diepsee visse wat lig benodig om te paar.

Alhoewel mense minder van Toon gesien het, het hulle meer en meer gemors eposse ontvang van hom. Meeste van hulle met die letters ‘FW:’ vooraan wat met verspotte video’s van YouTube of niksseggende boodskappies pronk. Anders as dié irritasies gepaard met die sporadiese “wmj” op mxit, het Toon soos die Skim verdwyn.

Toe een middag ontvang almal op eenslag Toon se vriendskap versoek op Facebook. Dit was tog te lekker vir hulle om weer sy gesig te sien, al was dit nou net op sy profiel foto. Toon het ure probeer om dié, wat so na hom verlang, in te lig oor sy doen en late deur gedurig status updates te maak, en foto’s te deel. Hy het later neuroties elke aspek van sy geheime lewe met almal gedeel. In ‘n donker kamer êrens in die heelal het hy staaltjies gedeel soos, ‘Toon is moeg,’ ‘Toon het nou baie lekker geëet’ en ook ‘n gunsteling, ‘Toon se blaas is vol!’ So groet hy elke oggend en elke aand al sy maatjies in die kuberruim maar niemand sien hom meer nie.

Later het sy obsessie veelvuldig gegroei en kon jy van Toon lees op Twitter by @Toonverteljoumeer. Toe MySpace en LinkedIn. Sy familie het vir die eerste keer in jare weer sy stem gehoor toe hy by Skype ‘n rekening oopmaak. Toon het mettertyd sy eie blog gestig, en daar kon mense in meer detail lees oor sy moegheid en wat is sy gunsteling gereg om te maak. Die laaste van sy ontdekkings was Instagram waar nog meer foto’s van onbenullighede ingestroom het.

Toon het obsessief gedeel met die wêreld. Elke gedagte, elke takie, elke droom was geredigeer om in 140 karakters te pas. Met elke prentjie was daar gepeuter om mooier voor te kom sodat dit meer ‘likes’ genereer. Soveel so dat hy een laatmiddag, vermoedelik, in sy rekenaarskerm geklim het en realiteit verruil het vir ‘n kuberruim lewenstyl.

Na daardie noodlottige middag het niemand ooit weer van Toon gehoor, of gesien nie. Net so af-en- toe, het hy homself ingeteken regoor die wereld saam met elke kuber-fanatikus.

No comments:

Post a Comment