Thursday, July 29, 2010

Blymoedige ervarings

Om eerstejaar te wees op kampus kan ʼn hoofpyn uitlok. Dit voorsien nuwe struikelblokke soos tydverdeling, kommer oor jou begroting, studiewerk en gereelde oproepe huis toe. Maar ek was anders. Ek het al reeds vir twee jaar gaan rond karwei deur Londen se ondergrondse moltreine. Toer was eerste op my lysie toe ek my matriek resultate gekry het en Europa was net om die hoek. In die loop van my reise het ek meer volwasse geword en was vermoedelik die mees volwasse eerstejaar in my Visuele Kommunikasie Klas (die rede hiervoor is oordat ek nie toe ʼn benul gehad het wie Hannah Montana is nie).

Een middag in my oriënteringsweek stap ek haastig verby ʼn mede-eerstejaar wat hartseer sit en trane stort op ʼn bankie. Ek loop verby, voel verlig oor ek nie haar tranedal het nie en strompel verder. Dadelik, voel ek skuldig en draai om. Ek gaan sit langs die vreemdeling met haar klam oë en vra, wat krap? Verwarrend kyk sy na my en begin uiter. Ek moet van kursus verander maar die vrou by studentehulp weier, sê die meisie. Weier? Hoekom sal sy weier, vra ek. Blykbaar is die fakulteit oorvol, sê sy. Oorvol? ʼn Fakulteit? Nee wat, dink ek en sê vir haar om net daar te wag. Ek stap na die tannie toe en herinner haar dat ʼn fakulteit duisende mense kan akkommodeer. Ek herinner haar ook dat sy vir studentehulp werk en wat dit als behels. Nog ʼn paar minute van ‘herinnering’ gaan verby totdat sy skielik onthou, en die meisie terugroep (die keer met ʼn glimlag) na haar kantoor. Die meisie verander haar kursus na iets wat haar meer pas en stap glimlaggend uit.

Hou op om dankie te sê en vertel my jou naam, sê ek beskeie. Boitumelo Motsoenyane, sê sy. Nee, dit sal ek nooit onthou nie. Enige byname, vra ek. Dolly, sê sy en ek lag!

Drie jaar later ontmoet ek en Dolly steeds mekaar gereeld vir ʼn opvang-geleentheid. Sy deel graag met my as sy ʼn rekeningkundevak baas geraak het en ek met haar oor my nuutste artikel. Ons lag steeds saam. Ek bedank tot vandag toe my naskoolse wysheid vir my vriendin, en nog ‘n rede om te lag.

No comments:

Post a Comment