Wednesday, July 28, 2010

Leer, leer, leer en blog!


Die Wêreldbeker is neusie-verby en die straatsmouse is weer terug om vervelige goedere te verkoop. Die vlae wat op een stadium al wat ʼn motorvoertuig versier het, is nou hartseer verwyder. Die Wêreldbeker wenners is terug Spanje toe. Suid-Afrikaners se aandag is weg van sokker en vir die student, is dit terug kampus toe.
Dit is die begin van ʼn nuwe semester en soos altyd begin ek teveel wonder. Wonder of het ek al genoeg gedoen? Geniet ek myself? Wat wil ek nog doen? Dan onthou ek my tyd op kampus tot dusver.

Ek het al, soos menigte studente, my graad sonder spyt verander; Ek het al gebly in ‘n koshuis waar ek tonne vriende gemaak het; Saam met hulle het ek die wêreld buite my koshuiskamer verken; Tye het gekom waar alkohol my baas geraak het en ek gespog het op Dropzone se dansvloer met my passievolle kleindorp-dansvermoëns; Liefde en hartseer het my gevind. Dit is so verbasend hoe die twee chronologies volg. Keer-op-keer het ek die emosies leer ken en dan ook hulle baas geraak; Ek het al uit pure nuuskierigheid al die verskillende kampusse verken (Groenkloof met sy prag heuwels bly my gunsteling); Daar was ook die een droewige dag wat ek die verkeerde klas instrompel (oor ek natuurlik weer laat was) en was bedagsaam gegroet deur ʼn vreemde Spaanse dosent. Ek het maar uit vernedering die klas stil bygewoon en my Spaans ʼn bietjie opgeknap; Organisasies waaroor ek passievol voel het ek myself deel van gemaak en moes hulle funksies bemark laatnag op die graffiti muur (met ʼn glas Sherry in die hand om die koue teen te werk); Kampus sielkundiges het my al hoor neul oor my ‘emosies’ en Kampus dokter oor my ernstige ‘maagprobleme’ (gewoonlik voor ʼn lastige semestertoets); Ek het al die ‘bokkie’ kaal gery en was daarna oor die vingers getik; ʼn Eerstejaar Madelief jottir was onder my voet verpletter en ek dan deur haar sambreel gevoetter.

Terwyl ek nostalgies terugdink aan al my kosbare herinneringe, kom ʼn oorweldigende gevoel van tevredenheid oor my. Dit voel asof ek na elke eerstejaarstudent wil loop en met hulle meedeel: Hierdie is jou ‘gloriejare’! Woeker daarmee! Moet nie bang wees vir uitdagings nie! Vind liefde en as jou hart gebreek word, doen dit weer! Eet baie ‘chelsea buns’ tussen klastye, hulle is vrek lekker!

Wat lê volgende vir my voor, wonder ek weer. Ek hoor hoe my ma se stem ego in my agterkop en ek weet meteens, gaan leer!

No comments:

Post a Comment