Wednesday, July 28, 2010

Kognisie veroorsaak net hoofpyn!


Ek het al baie vroeg in my lewe besef dat ek ʼn denker is. Iemand wat sy hele lewe lank dinge analiseer en wat homself onsettend baie kan bekommer oor die toekoms. Ek kan ure sit en kommer oor wat vir my voorlê.
Op my bromponie, waar ek baie tyd spandeer tydens spitsverkeer, sit ek hard en dink (of soms praat, wat heel verdag lyk vir my mede bestuurders). Ek wonder of ek en my kêrel regtig vir mekaar bedoel is, of ons nog vir lank mekaar so gelukkig gaan maak en of ek regtig my beste vir hom gee. In my joga klas (na sterk instruksies deur my instrukteur dat ek aan geen probleme mag dink nie!) kwel ek oor my volgende artikel in hierdie koerant. Ek onthou ook in my eerste jaar het ek vir weke wakker gelê en tob of ek ‘n verkeerde besluit gemaak het om te skuif van BCom Rekeningkunde na Ba Joernalistiek. Ek het die heeltyd gestres dat ek vir die res van my lewe ‘n joernalis gaan wees met kringe om my oë (nie noodwendig van te min slaap nie maar omdat ek nooit gesig produkte kan bekostig nie). Dan kan ek weer myself kry en kommer oor ons land se toekoms met onkundiges soos Julius Malema wat aanhoudend sy voet in sy eie bek druk (sug!).
Dit is tot laas week wat ek weereens gesit en kommer het op kampus oor die kwartaal se studies wat voorlê wat ek ‘n goeie vriend kontak om te kla. Ek het in sy oor geneul vir ‘n hele rukkie, en dit is toe wat hy die volgende stukkie advies vir my gee. “Sit net terug, laat gaan van die lewe, jy kan dit nie beheer nie. Geniet dit net!" Netso sê hy dit. Dit is dan vreeslike eenvoudige advies, dink ek. Ek dink, en dink, en dink weer daaroor. Ek besef, jy weer dink te veel. Dadelik hou ek op en laat dit gaan. As jy dit kan regkry om hierdie eenvoudige taak uit te voer en daar kom rustigheid oor jou lewe, laat weet iemand onmiddellik. Dit werk!

No comments:

Post a Comment