Monday, August 30, 2010

Kosbare lente lug


Die son is weer liefdevol. Die gedagte van vroeg opstaan en ontbyt eet is nie meer barbaars nie. Groenigheid word orals gevind tussen die dorre bruin. Daar is ʼn duidelike reuk in die lug wat ek jaar-op-jaar net nie kan beskryf nie. Dit is lente!
Ek stap vanoggend spesiaal ʼn ompad klas toe sodat ek die oggend lente lug langer kan geniet. Op pad wil ek ‘n foto neem van elke blommetjie en deel met ander. Ek juig binne in my kop elke keer wat ek ʼn kortbroek of ʼn somerrokkie sien. Ek kan nie eers verduidelik wat ek voel as ek ander ook sien plakkies dra nie. Ek is so na aan ʼn natuurlike ‘high’ dat ek almal om my net wil groet, en soms selfs soen. Dit was totdat ek haar betrap het…

Met die eerste sig lyk sy na ʼn gewone jong dame wat die lente waardeur, net soos ek. Met haar somerrokkie en pragtige blonde hare staan sy en wag vir klas om te begin. Skielik loop dinge drasties skeef. Tussen haar fyn vingers bring sy ‘n sigaret nader aan haar gespanne lippe. Sy steek die kankerdraer aan en haar lippe trek saam en sy begin suig. Die jong dame suig asof haar hele wese staat maak daarop. Die gifpyl se kooltjie brand van plesier. ʼn Duiseligheid spring in my gemoed op en ek kry haar longe bitter jammer. Meteens heroorweeg ek of ek ‘n lenteviering soen met haar wil deel.

Hoe kan ʼn jong dame die oggend so begin? Ek verstaan nog die verslawing van ʼn lekker koppie koffie in die oggend maar ʼn sigaret? Met al die rook in haar longe waar bly daar plek oor vir die oggend asem?
Ek loop ʼn wye draai om die meisie en haar besoedelde rookwolk. Ek gril ‘n bietjie vir die reuk wat vlugtig deur my neusvleuels disko en ek stap verder. ‘n Paar sekondes later besef ek sy het ook haar eie gewoontes en sy verdien geen oordeel nie. Ek gun haar ‘n sigaret en geniet verder die oggendlentelug. Ek raai almal aan om vroeg op te staan (en sommer al jou laste en onnodige rituele agter te laat) en dit self te ervaar!

No comments:

Post a Comment