Friday, February 18, 2011

'Facebook' generasie

Dit is die eerste week van klasse. Ek is opgewonde! Nee ek is meer as net opgewonde, ek is trots. Nie net trots dat hierdie my finale jaar is nie, maar dat ek my finale jaar by Tukkies kan spandeer. Daar is net ‘n handjievol studente wat hierdie jaar kon registreer en ek is een van hulle. Maar my opwinding en trots was die hele week in gedrang met die nalatenskap van hierdie jaar se Jool-optog wat soos ʼn donker wolk oor my hang.

Terwyl ek die eerste dag terug op kampus tussen die verwarde eerstejaars ryg (en hulle stil-stil uitskel) besluit ek gou om voor my klas by die biblioteek om te gaan. Ek neem my plek voor ʼn rekenaar en lag in my mou vir ʼn paar verveelde studente wat oor hulle skouer loer vir die biblioteek tannie wat enige oomblik agter ʼn rekenaar kan spring en hulle uittrap oor hulle skelm ‘Facebook.’ Ek fokus weer op my skerm, stuur ʼn paar e-posse en loer gou in op ʼn aanlyn nuusblad vir ʼn opvangsessie van sake.

Ek sien ʼn artikel wat handel oor hierdie jaar se Jool-optog en oor ek nie self dit kon bywoon nie, klik ek daarop. Die artikel handel nie oor Tuks wat ʼn suksesvolle Jooloptog aangebied het nie, of selfs oor die baie geld wat vir liefdadigheid ingesamel is nie, maar presies wat die titel lees: “Soos Straatboewe”. In die artikel word daar beskryf hoe dronk studente in die strate van Brooklyn onverstandig tekere gaan en verbygaande motoriste versteur en selfs hulle motors vandaliseer. Saam met die artikel is daar ʼn kort video opname van roekelose studente wat ʼn taxi bestuurder stop, sy motor oordonder en die mense binne-in natgooi met water.

Die volgende dag op kampus, met net soveel opwinding, herhaal ek nuuskierig hierdie roetine om te sien wat het gekom van die boewery saak. Ek vind toe ʼn ander artikel oor die Jool-optog: Twee eerstejaarstudente wat besluit om regstappe teen die polisie te neem omdat daar teen hulle ‘pepper spray’ gebruik was tydens ʼn stryery.

Teen die derde dag terug is die opwinding ietwat belemmer en my roetine nou ʼn ingestelde saak om te sien waaroor gaan daar nou geskryf wees oor Jool. Ek gaan blymoedig aanlyn om te sien of daar miskien iets goed geskryf is en of die nagevolge ten minste al oorgewaai het. Teen my bittere teleurstelling is daar ʼn tragiese artikel van ʼn student wat breindood verklaar was na hy raakgery was tydens die optog.

Drie dae, en drie negatiewe artikels. Is dit die beeld wat ons wil skep van Tukkies en studente? Het daar niks goed gebeur tydens Jool nie? Waar lê die fout? Is dit die Suid-Afrikaanse media wat net fokus op die negatiewe? Is dit die jeug wat nie hul perke ken nie? Is dit alkohol? Is dit omdat die moderne student verveeld is? Is dit oordat studente niks verder kommer as hulle volgende plasing op ‘Facebook’ nie?

Soveel vrae en almal bly retories. Intussen, terwyl elke student besig is om te ‘Facebook’ maak die een vrot appel die hele mandjie sleg.

No comments:

Post a Comment