Tuesday, March 13, 2012

Ouderdom lei na hang tieties

Vanaf ‘n jong ouderdom was Herman gefassineer deur die bedonderde omies en suinige tannies in sy lewe.

Die kere wat hy en sy ma saam by sy oom en tannie gaan kuier het, het hy ure gesit en uitpluis waarom hulle so anders is. Sy tannie was te jammer om te mors. Enige bottel wat deur haar kombuis beweeg het, was gebêre. Sy het ook aangedring dat jy die eerste bietjie kouewater uit die warmkraan moet opvang, en later gebruik om jouself te was. Bewaar die arme siel wat nie bewus was van hierdie ritueel nie...

Sy oom was ‘n kwaai man of ook ‘n “nors en bombastiese bliksem” soos deur sy ma verwys in die verlede. Hy was nooit seker wat die tweede woord beteken nie, so hy het maar eerder spore gemaak as sy oom in die vertrek inloop.

In die middae oppad huis toe, het hy altyd probeer sin maak waarom sy oom en tannie so was. Was dit omdat die oom altyd siek is? Het die tannie arm groot geword? Sy ma se teorie oor sy suinige tannie was “oor die oom haar, niks gegun het in die lewe nie.” En die oom se kort lont oor hul jongste seun hom uit Engeland gebel het om te verduidelik hy verkies die kroeë met die reënboogvlaggies.

Herman het geglo dit is omrede hulle oud is.

So ook deur die jare het hy ouderdom geblameer vir sy pa wat God se naam buite die kerk gebruik; Hulle buurvrou wat baie praat, en haar man wat die hond gereeld skop; Sy paranoïese ouma wat verwag enige oomblik gaan ‘n boef uit ‘n bos spring en haar aanval; Meneer Visagie, sy houtwerk onderwyser wat aandring dat alles wat verkeerd is in ons land, ‘hulle’ skuld is, terwyl hy met groot beskuldigende oë na sy arm kyk; En die dominee wat vasbeslote is dat elke taxi bestuurder hel toe gaan.

Ouderdom moes die rede wees, het Herman geglo. Hulle ouderdom is die enigste gemene deler onder al dié mense met vreemde gewoontes. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat dié slegte gewoontes lê vir jare en broei, tot die dag wat jy vyftig kersies op jou koek uitblaas dan spring hy los en maak almal gek. Na jou sogenoemde ‘mid-life crises’ sê mense basta met die samelewing, en gaan voort met hul waansinnige, suinige, nors en paranoïese gewoontes. Boonop dit, sal hulle dan aandring om dié gewoontes op die jonger generasie af te dwing.

Dus het Herman ‘n irrasionele vrees ontwikkel vir sy ouerjare. Hy het hom dood bekommer vir die dag wanneer hy sy geliefdes sal wegdryf met sy obsessie met Tupperware of, omdat hy gedurig en ontydig aan vreemdes gaan afkondig: ‘Jesus kom!’

Dit was eers in sy laat twintiger jare wat hy ‘n ontnugtering gehad het. Tydens ‘n gesprek met ‘n jong kollega vertel sy hoe sy nooit haar voete op ‘n luukse passasiers skip sal sit nie, uit vrees dat seerowers die skip sal kaap; Kort daarna besef hy ook, hoe ongeduldig ‘n goeie vriend is met sy twee kinders terwyl hy ‘n rugby wedstryd kyk; Ook het Herman agter gekom hoe maklik hy self laster as ‘n taxi bestuurder in die middel van die interseksie stop om passasiers op te tel.

Meteens besef hy dat slegte gewoontes niks te doen het met ouderdom nie. Elke persoon het een, of selfs meer, daarvan. Hulle word maklik aangeleer. Hulle kom van familie, vriende of politieke figure, maar kan ook netso vinnig afgeleer word.
So wens hy sy ma het in stede van skinder, sy oom en tannie help ontslae raak van hulle gewoontes.

Al waaroor Herman ouderdom nou verkwalik is lagplooie en hang tieties.

1 comment:

  1. Ek het gewonder waneer gaan jy weer blog .... sou graag meer gereeld iets wil lees ...;)

    Was weer lekker om vars leesstof in te kry.

    Groetnis

    ReplyDelete