Monday, October 4, 2010

Groet as jy my hoor

Die afgelope ruk word ek oorkom met arbitrêre vriendelike waaie. Oral groet mense te gretig terwyl ek verby jaag met my bromponie. Ek waai dan maar ewe verbaas terug maar wonder dan, ‘waarom hierdie skielike bedagsaamheid van die samelewing?’ Ek voel soos die dorp se spesiale kind wat almal altyd groet uit jammerte. Ek bevraagteken en bestudeer my voorkoms by elke verkeerslig opsoek na wat sal ly na die spontane vriendelikheid, maar vind niks nie. Heel ontsteld sit ek dan maar my oorfone weer terug (ek geniet so om kliphard te sing saam met Chirs Cameleon wat speel oor my i-pod. Die akoestiek in my helmet doen wonders vir my stem!) in, vergeet van my dilemma en ry verder om weereens by die volgende draai gegroet te word deur ʼn lukrake spul drywers, voetgangers en vanoggend selfs ʼn Taxi (Ek het nie eens geweet hulle besit enige vermoë van hoflikheid nie).

Maar eers voor ek die storie verder vertel moet ek meer uiter oor my betroubare makker. My Vuka. Ek het haar in my eerste jaar aangeskaf. Sy is nou al saam my deur dik en dun. Die perfekte maat. Ek het by die Vuka winkel ingestap destyds, haar aanskou, en het binne ʼn halfuur by my volgende klas gespog met my splinternuwe ryding. Sy was te ‘smart’! Ek het haar gedoop as Darkey (ek sweer, daar is geen rassistiese bybetekenis agter haar naam nie) en binnekort het ek die hele Pretoria verken met haar aan my sy (of onder my as jy wil spesifiek wees).

Ek het soveel herinnering met haar. Ek onthou een aand, opsoek na avontuur besluit ek om Pretoria beter te leer ken. Vyf ure later sit ek in Midrand. Dit was drie uur die oggend en ek het goed paniekerig geraak. Sy het nie gestop totdat het weer veilig was by my bestemming nie ietwat bewerig maar niks wat suikerwater nie kon stop nie.

Daar was soms tye wat ek skoon vergeet het ek besit haar en sal dan terug na my koshuis stap of ander ry planne maak. Dae het verby gegaan wat ek nie eens besef het sy staan nog alleen op kampus of langs ʼn winkelsentrum êrens nie. Helaas sou ek weer van haar onthou en sal opgewonde haar gaan haal waar sy getrou vir my gewag het.

Ek het ook deur ʼn fase gegaan waar ek vergeet het om die sleutel saam my te neem. Ek sou vergeetagtig die sleutel binne die aansluiter los en my klas gaan bywoon. Dit was totdat ʼn vreemdeling een middag gaaf vir my ʼn kort briefie gelos het. Dit het gelees, “Mnr Ellis (my studente kaart was saam op die sleutelhouer), ek raai aan dat jy in die toekoms jou sleutels uit jou bromponie verwyder. Iemand mag hom dalk net steel. Lekker dag.” Heel verbaas oor die man se eerlikheid onthou ek tot vandag, elke keer om die sleutel saam my te neem. Dankie vreemdeling.

Nou in my derde jaar is sy miskien nie meer so spoggerig en nuut nie, maar sy doen nog haar daad. Ongelukkig was sy vir ʼn paar maande buite werking oor ʼn pap wiel en pap remme. Ek (wat ook ly aan ʼn pap rem) wat nie die verskil tussen ʼn moer en boud ken nie, het haar stil-stil weer vergeet. Dit was totdat my pa onlangs kom kuier het en aangedring het ek my pap rem laat staan en ons my Vuka self regmaak. Ek gaan trek toe gepas aan vir die sessie en smeer myself wit met sonskerm. Binnekort is ek en my pa gretig besig om haar te diens. Met ʼn skroewedraaier in die hand, hard besig om al wat ʼn skroefie is uit te draai, is ek en my pa hard aan die gesels. Paniekerig vra ek my pa of hy gaan onthou waar elkeen hoort en hy stel my tot ruste. Ek glimlag benoud en draai maar verder. Want my pa weet beter. Ons werk vir ure maar ek vat kort-kort pouses waar ek vir ons glase water met suurlemoen skywe gaan haal. My pa vind vir al wat ʼn eensame skroef was weer ʼn plekkie en binne ʼn oogwink is sy weer heel op die pad.

Ek was te bly om weer haar terug te hê in my lewe. En blykbaar ook die res van die wêreld. Waarom sal hulle my so vriendelik groet? Het hulle ons twee so gemis?

Ek het aanhou wonder totdat ek vanoggend kampus toe ry. Met die gejaag uit die deur uit het ek my oorfone agter gelaat en is haastig op Darkey weg. Als het heel vlot verloop totdat ek my eerste linker draai moes vat. Eweskielik gaan my toeter tekere. Ek dink dit is vreemd maar ry verder. Teen die derde linker draai wat my toeter afgaan besef ek iets is nie lekker met my bedrading nie. Meteens besef ek waarom die volk om my aanhoudend groet. Ek vermoed my pa het ʼn skroef misplaas. Verlig dat my voorkoms nie die oorsaak was nie, besluit ek dat die swak bedrading nie ʼn slegte ding is nie. Ek dink ek gaan dit so los. Dit is lekker om heeldag te groet en gegroet te word. Ek dink vandag se beskawing kan doen met ʼn bietjie spontane vriendelikheid. Nou, drie jaar later bring Darkey nie net geluk vir my nie, maar ook aan almal aan my linkerkant.

No comments:

Post a Comment