Thursday, February 10, 2011

Moet my asseblief nie 'Cc' of 'Bcc' nie.

Ek onthou destyds as ʼn gretige nuweling wat by Hoërskool aansluit was een van my grootste vrese groepsdruk. Ek onthou veral hoe ek die aand voor St.6 verdrietlik aan my boetie bieg dat ek nie my individualiteit wil prys gee vir ʼn slegte sigaret agter ʼn onderwyser se klaskamer net om ‘in te wees’ nie. Hy het my getroos, en herinner dat ek altyd 'anders' sal wees en ook gedreig dat as ek ooit ʼn sigaret aan my lippe sit sal ek tweede kom.

Vyf jaar later was ek ʼn matrikulant en my Hoërskool loopbaan was groepsdruk vry. Bitter verlig oordat ek hierdie nare fase ontduik het tuimel ek die grootmens wêreld binne. Dit was toe wat ek besef hoe selfs na Hoërskool kan groepsdruk steeds soos ʼn donker wolk oor jou kop hang.

Skielik vind ek myself in ʼn wêreld wat strewe na aardse besittings, eposse met irriterende voorspoedbriefies, nagemaakde liefde en seks. Ook ʼn wêreld van alkoholmisbruik, speletjies met mekaar se harte en ʼn onnatuurlike drang om in te pas. As jongeling was ek oordonder met al hierdie verwagtinge en dadelik het ek myself ook laat in pas. Dus het ek my individualiteit prys gegee en dit nog sonder ʼn sigaret.

Ek is nou in my finale jaar op Universiteit. Die jaar wat tel. Hierdie jaar is ek spoedig oppad om my graad te kry. Die jaar wat ek die volwasse lewe betree. Ek het nie meer die stamina en die gebrek van fatsoenlikheid vir alkoholmisbruik nie. Ek het nie die lus en tyd vir speletjies, vervalsde liefde verklarings en onverskillige seks nie. Ek skrap alle eposse met die titel ‘FW:’ en laastens, vermy ek ten alle tye om in te pas want dié wat doen, verveel my.

1 comment: