Monday, May 9, 2011

Hou dit privaat...

Ek onthou in my tweedejaar het ek aangesluit by ʼn organisasie op kampus. Ek het aansoek gedoen vir die pos en was in ekstase oor ek ʼn plekkie gekry het. As nuweling was my eerste (en enigste) taak om elke vergadering by te woon, al die informasie te noteer en daarna minute te gaan tik en aanstuur vir almal wat die vergadering bygewoon het.

Die eerste vergadering het aangebreek en ek sit gereed met my notaboekie en potlood reg om alles pligsgetrou neer te skryf. Die vergadering begin en ek noteer alles mooi en netjies sodat ek later dit kan oortik. Aangesien ek nuut was in die span het ek geensins deel geneem in die vergadering nie.

So elke nou-en-dan kyk ek op om my oë ʼn ruskans te gee. Dit was toe wat my oë toevallig ʼn meisie oorkant my s’n vang. Sy staar met veroordelende oë terug en ek sit myne weer terug op my nota boekie. ʼn Paar minute later kyk ek weer op en my oë let op dat albei haar polse toegemaak is met verbande. Ek staar vir niks minder as ʼn sekonde nie en my oë val toevallig weer op hare.

Dit was toe wat die vreemdste ding gebeur. Niks in die wêreld kon my emosioneel voorberei vir wat gevolg het na my oë onskuldig hare gevind het nie. Sy spring dramaties op. Die spreker stop en staar met verbasing haar kant toe. Die meisie ruk met emosie albei die verbande af en ontbloot twee klein merkies op haar polse. Sy roep toe uit: “Daar het julle dit! Is julle nou bly?” Die lesingsaal eggo met haar skril stem: “Ja! Ek het probeer selfmoord pleeg. Dit is nou uit in die ope. Julle kan almal nou maar ophou skinder!” Almal om my is netso verslae soos ek oor hierdie skielike persoonlik belydenis. Die meisie kyk met vervloekte oë na my kant toe. Meteens voel ek my gesig word bloedbeloop. Ek dink vir myself dat ek nog nooit haar in my lewe tevore ontmoet het nie, nog minder skinder agter haar rug. Ek wonder of ek die oorsaak was oor sy skielik voel sy moet bieg voor almal. Vir ʼn oomblik wonder ek of ek dié uittering moet neerskryf vir die minute. ‘Ek is seker ons sal later weer hiervan wil lees’ dink ek. Die meisie gaan sit toe, nou met haar polse oop sonder verbande. Ons almal sit vir nog ʼn paar sekondes stil en gaan verder aan met die vergadering. Die meisie het net aangegaan asof sy nie pas ons almal geskel het oor ons vermoedelik van haar skinder nie.

Ek weet tot vandag toe nog nie of sy haar probleme opgelos het nie. Ook of dit nou al beter gaan met haar. Ek hoop regtig in my hart dat dit al beter gaan met haar. Maar, een ding wat ek wel weet is dat ek soms verstom is met die intieme informasie wat mense kies om met vreemdelinge te deel, net vir sommer. Ek weet nie of dit is vir aandag of simpatie nie, maar wat ek wel weet is dat sommige goed gehou moet word vir jouself, vriende, familie en jou sielkundige.

No comments:

Post a Comment