Tuesday, May 3, 2011

Links of Regs?

Die gemeenskaplike kwaliteit waarvoor Nelson Mandela, Oliver Tambo, Jacob Zuma en Julius Malema bekend staan, is dat hulle deur die massas Suid-Afrikaners gesien word as revolusionêre leiers.

Ek sit in lang leë gang versier met verouderde politiese plakkate by die Universiteit van Pretoria en wag vir Sedupe Ramokgopa, voorsitter van die South African Student Congress (Sasco) organisasie op kampus.

Terwyl ek wag vir my onderhoud wat Ramokgopa al vir weke aan my beloof het, maal my gedagtes oor alles wat ek al voorheen gehoor en lees het oor Sasco en sy leiers. Meteens besef ek dat vele Suid-Afrikaners vir Sasco ook sal eien as ʼn revolusionêre beweging. Hierdie ANC-geaffilieerde studente organisasie was al deur menigte leier figure op kampus beskryf as ekstremisties. Ook saam met dié terme volg beskrywings soos aggressief, onprofessioneel en radikaal van aard.

Ramokgopa is nou al ʼn uur laat vir die onderhoud. Ek skel hom saggies, verbaas oor hoe hard my uitskel weerklank in die gang en ek peins verder…

Ek onthou in 2010 by die Universiteit van Pretoria waar ontevredenheid oor die Verteenwoordigende Studente Raad (VSR) verkiesings gelei het na protesaksie. Hierdie aggressiewe proteste is gelei deur lede van die Young Communist League (YCL), die Pan African Student Movement of Azania (PASMA), ANCYL en ook natuurlik Sasco. Dit skemer deur hoe die volgende jaar vol onsekerheid was oor daar ʼn Tydelike Studenteraad (TSK) moes dien omdat die eleksies nie kon voortduur nie. Dit is duidelik dat hierdie revolusionêre gedrag meer skade gerig het.

Dit is al ʼn uur en 15 minute later as die afgespreekde tyd en ek hoor ver in die gang-af voetstappe aankom. Skielik voor my is ʼn jong glimlaggende Ramokgopa. Sonder enige verskonings oor sy laat aankoms word ek vriendelik in sy kantoor genooi.

Die kantoor is versien met ou-geel koerantknipsels van Sasco proteste regoor die land. Die kantoor met sy pronkartikels skreeu revolusie. Ek sit regoor Ramokgopa en gereed vir die onderhoud wat kom.

ʼn Jong dame kom kort daarna in sonder om te groet en gaan sit in die hoek.

Ek bespreek met Ramokgoma die doel van my onderhoud en hoe lede van die studente-parlement vir Sasco aankla oor hulle vermoedelik opsetlik vergaderings steur om hulle wil te skiet.

“Volgens die DA-Jeug voorsitter, Peter Sleeman het sekere lede van Sasco aggressiewe en rassistiese e-posse aangestuur om ʼn studente-parlement vergadering te steur oor hulle nie saamstem met die inhoud van die vergadering nie” sê ek. Ek gaan verder aan met die volgende beskuldiging, “Sleeman het ook uitgedruk hoe lede van Sasco tydens die vergadering bewustelik vir ure op sekere sake gefokus om ander weer te vermy.”

Sleeman het in ʼn onderhoud met my gedeel dat saam met die ANC-jeugliga sien Sasco hulself as die enigste mense in hierdie land wat in staat is om die uitdrukking van die wil van die jeug te maak. “In my ervaring het Sasco geen plek vir onderhandeling as sake nie in hul rigting beweeg nie,” sê Sleeman ontstoke aan my.

Ramokgopa skud sy kop oor die aanklag en begin met ʼn verdediging. Hy ontken die nare e-posse en hy dring aan dat Sasco net besorg was oor sekere sake in die vergadering en wou net op ʼn deuglike beslissing kom. “Die ander lede van die parlement is nie bereid om sake finaal uit te sorteer nie. Hoe moet dinge gedoen word as ons nie dit ordentlik bespreek nie?” vra Ramokgopa.

Gedurende die onderhoud pla die onbekende jong dame kort-kort vir Ramokgopa wat dan lei na ʼn kort geselskap in hulle moedertaal. Verbaas oor hulle lukrake opvangsessies wat ek nie verstaan nie maak ek maar seker of al my gekrabbelde notas akkuraat is.

Dit is duidelik dat Suid-Afrika se regerende politieke partye en hul leiers, soos Sasco soms radikaal mag voorkom. Hierdie radikale en selfs ekstremistiese figure word gesien as revolusionêre wat verandering wil bring in ʼn land wat steeds letsels vertoon van apartheid. Maar waar moet die streep getrek word?

Malema se bekende woorde “Kill the Boer” is ʼn voorbeeld van dié radikale optrede wat Suid-Afrikaners mee tegemoed kom. Hierdie uitlating het gelei na baie kontroversie onder Suid-Afrikaners. Malema het hierdie lied verdedig as ʼn onskuldige volkslied met geen bybedoelings nie. Ander het dit weer gesien as blatante rassistiese haatspraak gemik op die Afrikanervolk. Malema was dus deur AfriForum aangekla vir haatspraak.

Ernst Roets, Voorsitter van AfriForum Jeugliga wat ook getuig het in Malema se haatspraak hofsaak sê dat radikale uitlatings nie gestop kan word in 'n demokrasie waar menings en opinies aangemoedig word nie. Hy sê ook dat niemand kan enige iemand verhoed om radikaal te dink nie, want om dit te doen sou opsigself radikaal wees. Roets meen egter dat hy net baie bekommerd is oor groepe wat probeer om die frustrasies van hul ondersteuners na 'n sekere rassegroep te rig.

“ ’n Voorbeeld hiervan is Julius Malema wat vir sy ondersteuners vertel dat alles wat boos is in hierdie land die witmense se skuld is. Dit geld ook dan vir wit groepe wat die heeltyd al ons land se probleme op swartes wil blameer. Dit is gevaarlik om sulke tipe uitlatings te maak oor dit konflik en radikalisme verhoog,” sê Roets.

Roets verduidelik verder hoe Malema se optredes nie voordelig is vir ons land en sy mense nie. “Hy het selfs in die hof getuig dat hy mense se eiendom (in spesifiek hulle plase) wil onteien sonder om hulle daarvoor te vergoed. Hy het vertel hoe sy medeleiers die artikel in die grondwet wat privaateiendom beskerm wil skrap,” sê Roets. Roets sluit ons gesprek af deur te waarsku dat “Malema en sy trawante se optrede verseker nie in die belang van alle Suid-Afrikaners is nie.”

Daar is ook twee kante aan hierdie storie. Dit is nie net die ‘revolusionêre’ in ons land wat soms radikaal mag voorkom nie. Soos Roets noem kan die Afrikanervolk ook radikaal verkeer. ʼn Voorbeeld hiervan is die Orania bewing.

Orania is ʼn klein Afrikanerdorpie op die grens van die Vrystaat en die Noord-Kaap. Volgens Charl Oberholzer, nasionale Voorsitter van Orania Jeug is die doel van hierdie gesekureerde dorp om 'n plek te skep waar Afrikaners rustig kan voortleef, hulle eie dorpsraad hê, hulle eie besluite kan neem en binne die konteks van Suid-Afrika die ideaal van die Afrikaner uitleef.

Oberholzer dring aan dat Orania in geen manier rassisties of ekstremisties is nie maar ander menigte stem nie saam dat die Orania beweging goed is vir ons land nie. Marlene Botha wat teen die Orania-beweging gekant is sê, “Die Orania-gemeenskap is ’n teruggryping na Afrikaner-nasionalisme. Hulle leef onder ’n illusie as hulle dink hulle gaan enigiets regkry deur hulself apart te hou van die samelewing. Dit is maar net nog ’n groep mense wat onder die invloed van hul voorouers se politieke ideale is.”

Dit is duidelik dat ons land steeds gevul is met klein groepe met sterk persoonlike oortuigings. Beginsels wat soms ver regs of links mag voorkom en wat gereeld met mekaar bots. Maar tog is elkeen van hierdie bewegings ewe belangrik aan sy volgelinge.

Terug weer in die Sasco kantoor het die onderhoud al beweeg na ʼn vriendelike gesprek met Ramokgopa. Ek is ook nou ʼn slagoffer vir sy sjarme. Daar is al vergeet van sy tekort aan stiptelikheid en ekstreme oortuigings en ek voel in ʼn manier sleg oor ek hom geskel het.

Hy deel met my waarom hy en sy medelede so passievol is oor Sasco: “Daar is mense daar buite wat sukkel. Mense wat slagoffers is van armoede en diskriminasie. Mense wat net gesien wil word. Mense wat gehoor wil word. Maar hulle het nie die vermoëns om hulle stem dik te maak nie. Ryno, ek sal hulle stem wees,” sê Ramokgopa.

No comments:

Post a Comment