Thursday, October 20, 2011

Totsiens Kampus-Beeld



Hier sit ek weer vir die laaste keer. Die wyser op my rekenaar flikker afwagtend vir ‘n artikel gereed voor my spertyd. Weereens het ek ‘n magdom informasie wat ek in 300 woorde moet forseer. Maar dié keer rapporteer ek nie oor hoe Sasco vir DASO slegsê, of die VSR wat kopstamp met die Universiteitsbestuur nie. Dié keer onthou ek my dae as lid van Kampus Beeld redaksiespan.

Ek onthou my eerste artikel in Kampus Beeld. Wat ‘n ramp. Ek was ‘n kans gegun om met Laurika Rauch ‘n onderhoud te voer oor haar optrede saam met Tuks se orkes. Maar in die artikel het ‘n aanhanger haar verkeerdelik beskryf. Dit het daarvolgens gely tot ‘n ontstelde Laurika wat persoonlike oproepe maak aan myself en my redakteur. Verbeel net my verbasing toe my foon lui met ‘n ontstelde Laurika aan die ander kant wat uitroep, “Ek voel so magteloos, net-so-magteloos!” Ek herhaal, wat ‘n ramp!

Anders as dié debakel was my tyd verder gevul met soveel kanse en leergeleenthede. Ek het een té veel Serrie konsert bygewoon, en het kennis gemaak met verskeie politieke verenigings en geleer om nie een te veroordeel nie. Hulle almal maak saak! Na ek verby haar sekretaris se sekretaresse gekom het, was ek ook die voorreg gegun om met Prof. Cheryl de la Rey te gesels oor haar planne vir Tuks.

Ek wil graag hierdie kans gebruik om ons redakteur by Kampus Beeld, Riette Grobler te bedank. Met ons eerste vergadering, het sy een van my artikels aan my terug gegee, vol rooi krabbels en regstellings met dié onverskoning, “Jammer vir al die veranderinge, ek is die produk van twee Afrikaanse onderwysers.” Alhoewel dit toe ‘n knou was aan my selfbeeld kan ek twee jaar later dankie sê. Jy het my lus om skrywer te wees en soveel meer om ‘n Afrikaanse skrywer te wees gevoed.

Soos ek vir die laaste keer die Jakarandas sien pers word by Tuks is ek terselfdertyd bang oor wat in die toekoms vir my wag, maar ook trots om terug te kyk na goeie jare as student. Ek groet Tuks, Kampus Beeld lesers en my getroue studentenommer. Ek is nou klaar gepraat.

No comments:

Post a Comment