Wednesday, November 10, 2010

Uitstel op sy beste

Dit is November en vir alle studente beteken dit eksamen tyd. In dié tyd word alles aangedurf behalwe studietyd. Daar is ʼn pragtige Engelse woord om hierdie fenomeen te beskryf (wat elke student hulself in oormaat van skuldig maak), 'procrastination.' Daar is baie maniere om jou studietyd uit te stel, soos byvoorbeeld: Die aanhoudende wil om alles skoon te maak (oor-en-oor), die ontwikkeling van onsamehangende stokperdjies (soos my nuutste blog-post), ʼn obsessie met sosiale netwerke soos bv. die drang om jou Facebook plasings aanhoudend te wil verander (en daarin vir almal in Facebook wêreld te herinner van die smart van studentwees in eksamentyd), briefies van lyding in al wat ʼn houtbankie is in die studie sentrum te graveer en laastens (my persoonlike gunsteling), om elke maaltyd ʼn okkasie te maak wat baie tyd en aandag verg.

Ek was nooit ʼn student wat dae voor die tyd kan voorberei vir ʼn vraestel nie. Dit is maar ʼn gebrek wat ek besit en ek het dit aanvaar. Ek werk en leer beter onder druk. ʼn Dag of selfs ʼn paar ure voor my eksamen is al wat ek nodig het en dit is ook wanneer my studiemetodes floreer. Dit beteken ook dat ek myself onder baie hoë druk plaas met bitter min slaap. Die is ʼn gevaarlike kombinasie en gemeng met genoeg kafeïen, kan dit fataal raak (goed ek oordryf miskien net so bietjie).

Ek onthou destyds in my eerstejaar het ek Afrika geskiedenis as ʼn vak geneem. Wat ʼn informatiewe vak! In hierdie leervak moes ons minstens vyf verskillende Afrikalande ken vanaf hulle antieke geskiedenis tot en met hulle huidige politieke leiers. Nou vir almal wat al die onreg gehad het om enige Afrika land te bestudeer sal weet hoe die name besonders moeilik is om uit te spreek, spel en laastens (en belangrikste) onthou!

Weereens het ek besluit om hierdie studie-ervaring vir die aand voor die tyd te los. Angstig en al klaar moeg vaar ek die studiesentrum in. Met my eerste tree in die sentrum voel ek die melancholie. Jy kan dit selfs ruik! Jy voel elke student wat hulself hier vestig smag om by ʼn ander tyd en plek te wees. Die hele ervaring herinner my aan ʼn Afrikaanse begrafnis. Almal is bitter hartseer, en vind vertroosting in vingerhappies soos selfgemaakde toebroodjies en muffins. Hulle hou mekaar ook gedurig stil uit respek vir die dood (die wat die volgende dag moet skryf) en probeer onthou aan al die goeie tye wat was (en wat nog gaan kom) voor hierdie depressiewe ervaring. Ek probeer my bes om die desperate gevoel te ignoreer en kry ʼn gepaste plekkie (weg van mense met lopende neuse wat gedurig snuif en oorfone wat harde kletsrym musiek speel), vat ʼn diep asem en vaar blindelings deur die boeke. ʼn Hele paar ure gaan verby waar ek met ʼn slakkepas vorder.

Nog ʼn paar ure vlieg verby voor die nare insident gebeur… Terwyl ek heel verbaas en vies die Afrika slawerny in die 1800’s deurlees (en die voorvaders van Amerika en Brittanje vloek) gaan die studiesentrum se ligte skielik af. Dit is stikdonker. Verward en bekommerd sit ek en wonder of dit al toemaaktyd is. Oombliklik begin ek te kommer en verbeel ʼn hele paar scenario, almal van hulle waar ek alleen in die donker sit en probeer om verder te studeer met my selfoonliggie (en wonder waar ek kan kamerverlaat sonder dat dit in die more ontdek sal word). Meteens skop my reflekse in en ek spring op. Ek gryp na al wat ʼn boek en nota is en stop dit in my sak. Ek hol die gang af en begin soos ʼn besetene skreeu vir enige iemand wat sal luister, “Wait, there’s someone still in here!” Stilte volg. Weereens begin ek skree na hulp. Net harder die keer. Meteens gaan die ligte aan. Dit vat my oë ʼn paar sekondes om te herstel. Dit is toe wat ek besef dat daar ʼn skare vir my sit en kyk agter hulle hokkies. Almal met ʼn uitdrukking van skok op hulle gesigte oor die luidrugtige student wat pleit vir sy vryheid. Amper onmiddellik word die stilte van die studiesentrum gevul met skaterlag. Jare se melankolie en depressie vloei summier uit die sentrum. Ek wat steeds in die gang staan met helfte van my boeke wat uit my sak hang voel hoe die beskroomdheid my opvreet. Meteens besef ek die ligte het net vir ʼn oomblik afgegaan. ʼn Normale tegniese probleem. Almal weet dit. ʼn Gevoel van verligting, verleentheid en wêreldsmart val oor my en ek draai glimlaggend om en gaan sit weer in my hokkie en vervloek verder die wêreld en sy kroos.

Goed, nou na ek hierdie vernederende staaltjie geuiter het, is minstens nog ʼn uur gemors van my studietyd. 'Procrastination' maak weereens ʼn aap van my vanaand! Daar is nog net agt ure oor voor my volgende riller van ʼn eksamenvraestel en ek weet nog gans en al te min. Ek wens net iemand sal vanaand my tyd in die studiesentrum so opkikker soos ek twee jaar gelede gedoen het. Ek het dit nodig!

No comments:

Post a Comment