Monday, May 9, 2011

Soos dit die hof behaag

Die ander dag skrik ek wakker met ʼn kinderlike opgewondenheid binne my. Ek het niks klasse gehad nie en ʼn uitstappie was die perfekte manier om my studies te vermy. Mooi gedos met kraaghempie, regop hare en my gepunte swart skoene was ek oppad na Pretoria se Hooggeregshof met ChrisJan (My ‘lewensmaat,’ soos hy my voorheen aan iemand voorgestel het).

Toe ChrisJan my nooi vir ʼn dag in die hof het ek die kans gegryp. Net vir ingeval ek eendag as joernalis moet rapporteer vanuit die hofkamer.

Was dié toer nou vir jou ʼn ervaring…

Met die aankoms by die Pretoria se Advokate Kamers in die middestad het die oggend skitterend verloop. Ek het in ChrisJan se kantoor gesit en gewag op die dag met filterkoffie in die hand, die koel môrelug windjie wat my wange byt terwyl ek rustig vanuit die sewende vloer venster gluur oor die middestad met sy historiese geboue, haastige voetgangers en polisie serene.

Teen laatoggend dui ChrisJan aan dat dit tyd is om hof toe te gaan. Hy gryp ʼn hopie materiaal, sy rol-tassie en ons is weg. ʼn Blok vanaf die kantoor loop ons by ʼn gebou in met sterk sekuriteit maatreëls. Uiteindelik na ek van kop-tot-tone bestudeer was deur die sekuriteitsman, sien ek hoe gooi ChrisJan skielik die stuk materiaal oor sy skouers en praal met ʼn swart toga (nes dié wat ʼn trotse student dra met hul gradeplegtigheid) en ʼn wit beffie om sy nek. Toe ek om my kyk sien ek skielik hordes van hierdie pikkewyn-geklede advokate wat om ons skarrel, elkeen haastig oppad na hul volgende hofsaak toe. Agter elke advokaat foeter daar ʼn oor-angstige prokureur wat weer gevolg word deur ʼn triestige siel met ʼn bekommerde uitdrukking op sy/haar gesig. Elkeen met die hoop dat die regsisteem aan hulle kant is vandag.

Dit was duidelik dat daar ʼn rangstruktuur binne die hof is. Ek het aangeneem omdat die advokate die deftigste aangetrek is, is hulle heel bo aan die rangorde. Maar dit was nie die geval nie. Sodra enige advokaat die hof betree verloor hulle summier enige rang en is dadelik onderdanig aan ʼn regter met ʼn suur uitdrukking op hul gesig. Die advokate benader die regters met soveel respek en vrees (wat jy in hulle stem kan hoor). Elke sin word begin of geëindig met die woorde "U Edele" of “My Lord” en steeds praat die regters hulle dood. Ook as die advokaat ʼn fout begaan of selfs ʼn kuggie uiter word daar onmiddellik onverskoning gevra gevolg met "U Edele soos die hof behaag." Ek het later gewonder of die regters nie soms die advokate te-lyf gaan nie.

Ook die oggend voor my uitstappie maak ek ʼn grap en vra ChrisJan of ek voor die regter moet buig. Hy kyk my met erns aan en sê dat ek regtig moet. “Elke keer wat jy die hof binnegaan moet jy uit respek vir die regter buig,” sê hy. Ek lag hard en dink “hoe dom dink hy is ek." Ek het hom die volgende dag steeds nie geglo nie totdat ek sien hoe mense haastig buig voor hulle by die hof instap. Dit maak nou nie saak of die regter besig is met ʼn beslissing of uitskel-sessie nie, buig moet jy buig. Hierdie was vir my natuurlike ʼn vermaaklike aktiwiteit. Elke keer wat ek die hof binnegaan of verlaat het ek die regter gegroet met ʼn buig wat selfs die Britse monargie sal stomslaan. Ek het seker gemaak dat my een voet voor die ander is, en met my een hand agter my rug buig ek bekoorlik vooroor. Hierdie roetine was vir my so plesierig dat ek na elke buig-sessie aanhoudend bly giggel het.

My vreugde het later tot ʼn stilstand gekom toe ek ʼn paar egskeidings moes sien. Dit was vir my net bitter hartseer om te sien hoe ʼn huwelik sonder emosie tot ʼn einde kom. Dit is hartseer hoe iemand na ʼn klompie jare moet getuig dat hulle alles probeer het om hulle huwelik te red maar dat dit steeds nie gewerk het nie. Dan ook die glimlag wat hulle gee sodra die regter bevestig die huwelik is om, was net té veel vir my. Ek het drie egskeidings gewaar en het drie kere snot-en-trane gehuil. Die ander mense in die hof (wat nie één huil nie!) het my met verwarde oë bekyk. ChrisJan het my in die toekoms genooi om ʼn strafsaak te gewaar waar twee mense vermoor was. Ek gaan verseker ʼn hele paar snesies vir daardie saak moet inpak.

Maar altesaam was my eerste dag in die hof omtrent ʼn avontuur gewees!

1 comment:

  1. Ryno Hotness Ellis :)

    Na hierdie blog, kan ek die volgende se:

    "As the Court pleases My Lord (or the Honourable Mr Justice Ellis). I am indebted to Your Lordship!

    Die beskrywing van hoe jy die hof en die pikkewyne ervaar het is spot-on! Dit is 'n goeie beskrywing van die onbekende hofwêreld aan die mense wat nog nooit in 'n hof was nie.

    Jou trane vir die mense wat geskei het was opreg en so mooi. Dit wys vir my dat Ryno Ellis menslikheid in hom het - 'n eienskap waaroor so bitter min mense vandag nog oor beskik.

    Ryno, dit was so lekker dat jy saam met my die dag in die hof spandeer het, en ek sien uit na die volgende keer wat jy agter hierdie pikkewyn gaan aan hardloop! Jy het my dag in die hof buitengewoon plesier verskaf!

    Ek voel geëerd om 'n blog vanaf jou te kon kry!

    ChrisJan

    (NS: ek sal die volgende keer wat jy saamgaan 'n ekstra sakdoek saamneem...)

    ReplyDelete