Thursday, August 18, 2011

Brief aan 'n eerstejaarstudent

Liewe Ryno.

Daar is soveel wat ek jou wil vertel van jou toekoms. Ek wil net begin deur te sê, die aardbol staan nog sterk en aardverwarming het nog nie sy tol geëis nie. So chill en hou op om jou herwinningoortuigings op ander af te dwing. Verder, die Gautrain is uiteindelik klaar. Dit is net jammer ons het nog nie ʼn kans gekry om hom te geniet nie. Die rede hiervoor is oor dit wat hulle nog by jou bou, tans gesteel word by my. Ons albei moet net glimlag vir die ironie, vasbyt en weet ons beurt sal nog kom.

[Spoiler alert] Amy Winehous gaan dood! Ander opmerklike persone wat die tydige met ewige gaan verwissel, is Osama bin Laden (dit was soos iets uit ‘n aksie film), Michael Jackson, Eugene Terreblanche en die Oprah Winfrey show. Jy gaan nog baie treur oor die laasgenoemde. Die grootste verbasing wat jou kant toe kom, is jou onverwagse beheptheid met Kurt Darren se musiek. Alhoewel jy nou bang en benoud voel, wees rustig, sy salige stem sal jou vinnig tot kalmte sis. Goeie nuus wat ek wel kan deel is dat Tata Mandela en Riaan Cruywagen steeds lewe.

Verder moet ek jou voorberei vir twee kreature wat op jou pad gaan kom. Een meer legendaries as wat Facebook vir jou nou is. Die ander waansin wat jou geduld meer gaan toets as die oor-charismatiese persone wat jou nog sporadies gaan voorkeer en hul geloof op jou probeer afdwing. Ek stel bekend aan jou, Lady Gaga en Julius Malema.

Verhoudings: Hulle gaan nog kom. Jy gaan nog harte breek en ook joune vanaf die vloer optel. Jy gaan ook gou genoeg leer verliefdheid en liefde het wêreldwye verskille. Wees net rustig, iemand spesiaal is op jou pad en hy is die wag werd.

Ten slotte wil ek jou aanraai om jou stresvrye lewe te geniet. Binnekort is dit gevul met finale-jaar opdragte, bekommernis oor jou finansies en lastige kar-wagte wat jou manipuleer om jou laaste R5 aan hulle te gee.

Ek sluit af deur jou sterkte toe te wens en te sê, jy gaan okay wees.

No comments:

Post a Comment