Thursday, August 11, 2011

Skoonheid

Skoonheid

Drama

Met: Deon Lotz en Charlie Keegan
Regie: Oliver Hermanus

Met films soos Poena is Koning en Liefling op ons kerfstok het ek gesidder toe ek hoor ʼn Afrikaanse film word vir die eerste keer by die Cannes film fees in Frankryk gewys. Dit was nie totdat ek Skoonheid gaan kyk het wat ek ten volle verstaan het waarom hy soveel opslae regoor die wêreld maak nie.

Die film speel af tussen die Vrystaatse Afrikaner stadsdorpie, Bloemfontein en die metropolitaanse stad, Kaapstad. Jy as fliekganger voel sommer dadelik tuis in die teater wanneer plekke soos Mystic Boer en Clifton beach genoem word deur die karakters.

Die hoofkarakter Francois (gespeel deur Deon Lotz) leef ʼn dubbel-lewe as ʼn familieman met ʼn vrou en twee kinders terwyl hy gereeld in die geheim ander mans op ʼn plaashuis buite Bloemfontein ontmoet vir seksuele ervarings.

Francois besit al die karaktereienskappe wat verwag word van ʼn wit heteroseksuele Afrikaanse man; Hy is manlik, onemosioneel, rassisties en homofobies, almal eienskappe wat hom help om jare lange se gevoelens te onderdruk. Sy karakter kan ook beskryf word as hartseer en ook amper verbitterd, albei duidelike byprodukte van selfhaat.

By ‘n troue sien Francois ‘n ou vriend se seun vir die eerste keer in jare. Christian (gespeel deur Charlie Keegan) wat Francois nog onthou as ʼn jong kind is nou ʼn aantreklike jong man wat dadelik emosies van intrige en verwarring in hom na tevore bring.

Francois ontwikkel dus ʼn ongesonde obsessie met Christian en volg hom selfs agterna Kaapstad toe waar Christian studeer. Sy obsessie, selfhaat, geheimsinnige leefstyl en drang na ʼn lewe wat hy self nie verstaan nie lei daartoe dat Francois verkeerde keuses maak.

Skoonheid is ʼn Afrikaanse film met diepte, gevoel en boonop alles, ʼn akkurate verteenwoordiging van ons land en sy mense. Voor jy té opgewonde raak en in jou motor spring om ʼn kaartjie te gaan koop, wees gewaarsku, die film is nie vir die fyngevoelige fliekgangers nie. Dié film is ook kras, skokkend en ongelooflik waar. Oliver Hermanus, die regisseur beskryf sy film as té uitdagend en waar vir ʼn land wat nie gemaklik is om hulself in ʼn eerlike manier te sien nie.

Maar vir al diegene wat Skoonheid gaan braaf moet net die volgende weet: Dit is nie noodwendig ʼn verhaal oor alles wat verkeerd is met homoseksualiteit nie maar wel ʼn verhaal oor wat alles verkeerd kan gaan wanneer diskriminasie, onverdraagsaamheid en selfhaat oorneem.

No comments:

Post a Comment